loading
avatar
Blogs
9 uur gelede
van-skaduwerk-tot-internskap-danksy-solidariteit-n-student-vertel

Fotokrediet: Verskaf

Van skaduwerk tot internskap danksy Solidariteit – ʼn student vertel

Deur Amy Broekman

In November 2025, net ná ek my eerstejaarseksamen voltooi het, het ek gewonder: Wat gaan ek hierdie vakansie doen? En soos die noodlot dit wou hê, as mens soek na iets dan kom dit na jou toe.

Ek het Solidariteit se advertensie vir skaduwerkgeleenthede vir studente gesien. Wel, wie nie waag nie, sal nie wen nie; daarom het ek aansoek gedoen – min wetende op daardie stadium hoe dit my lewe sou verander.

Ná afloop van die skynonderhoude het ek verneem dat ek by Sol-Tech geplaas is vir die skaduwerktydperk. Ek het daar opgedaag en is vriendelik en warm verwelkom deur mense wat nou soos familie voel – maar laat ek nie die storie vooruitloop nie!

Wat aanvanklik net ʼn driedag-geleentheid sou wees, het verander in ʼn maand se skaduwerk. Ek het ná die eerste dag besef dat dinge hier anders gedoen word – met hart, siel en opregte omgee. Dit was die soort werksomgewing waarmee ek myself werklik kon vereenselwig.

Die bemarkingsafdeling het my vinnig onder hul vlerk geneem en my touwys gemaak oor baie van die interne prosesse. Daar was aansoekprosesse hier en plasingsprosesse daar; alhoewel dit oorweldigend was, was my nuwe span vol motivering, geduld … en nog prosesse.

Saam met die Sol-Tech-werwers het ek verskeie skole besoek en baie kilometers tydens verskeie kampustoere afgelê saam met nuuskieriges, BBP’s en selfs Mielies, ons kampustroeteldier.

Teen die einde van my skaduwerkgeleentheid het ek met ʼn swaar hart afskeid geneem van die omgee-mense wat in ʼn baie kort tydjie so ʼn groot deel van my dag en lewe geword het.

Sol-Tech was nie net meer ʼn naam nie; dit was ʼn instelling met ʼn passie vir wat hulle doen, gekenmerk deur ʼn trotse kultuur en ʼn doelgerigte benadering tot elke taak. Ek was trots daarop om te kon sê dat ek op daardie stadium ʼn klein deel was van die toekoms van ons ambagslui.

Die tyd het verbygegaan en onverwags in Januarie 2026 het Sol-Tech se bemarkingsbestuurder my in kennis gestel dat daar ʼn internskappos in die bemarkingsafdeling geadverteer sou word. Ek het gewik en geweeg en by my lewensleuse gehou: wie nie waag nie, sal nie wen nie.

Ek het my aansoek ingedien en styf duim vasgehou. Toe kom die oproep: dit was weer onderhoudtyd.

Uiteindelik het die verligting gekom: Ek is terug by Sol-Tech as bemarkingsintern! Ek kon my opgewondenheid nie wegsteek nie. Danksy Solidariteit se aanvanklike advertensie, het hierdie geleenthede oor my pad gekom!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel