Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Solidariteit se tweede MHB-dag: Kalmte te midde van die chaos
Deur Leré Nel
Verandering, druk en onsekerheid het deel van elke werksomgewing geword. Dikwels is dit mensehulpbronpraktisyns (MHB-praktisyns) wat moet help om die vrede te bewaar, probleme op te los en werknemers te ondersteun. Maar wie kyk na die welstand van die mense wat elke dag na ander omsien?
Dit is juis waarom Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling vanjaar vir die tweede keer sy Menslikehulpbronne-dag (MHB-dag) aangebied het. Met die tema “Kalmte in die chaos: Veerkragtigheid in ʼn veranderende werksomgewing” is MHB-praktisyns van verskeie ondernemings en organisasies bymekaargebring vir ʼn oggend van bederf, professionele ontwikkeling en netwerkbou.
Volgens Mandy-Michelle Thackwray, bestuurder van Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling, is die doel van dié geleentheid om erkenning aan MHB-praktisyns te gee vir die belangrike rol wat hulle in die werkplek vervul, maar ook om hulle met nuwe kennis, inspirasie en praktiese hulpmiddels toe te rus.
“Ons kan nie al hul uitdagings oplos nie, maar ons kan hulle inspireer en bemagtig met kennis en nuwe idees sodat hulle holisties na die mense in hul organisasies kan omsien,” sê Thackwray.
Sy beklemtoon dat MHB-praktisyns dikwels verskeie rolle moet vervul, van konflikhantering en probleemoplossing tot die motivering en ondersteuning van werknemers. Tog ervaar hulle self ook uitdagings en verdien hulle dieselfde vlak van ondersteuning wat hulle daagliks aan ander bied.
Veerkragtigheid is ʼn vaardigheid wat ontwikkel kan word
Vanjaar se gasspreker, Anja van Beek, ʼn talent- en kultuurstrateeg, uitvoerende afrigter en stigter van die WholeLeader Collective, het die fokus op veerkragtigheid en die hantering van verandering in die werkplek geplaas.
Van Beek het waardevolle insigte uit haar meer as 20 jaar van korporatiewe ervaring gedeel oor hoe mense op verandering reageer, hoe veerkragtigheid ontwikkel kan word en hoe MHB-praktisyns met groter kalmte en selfvertroue deur uitdagende tye kan gaan.
Die kernboodskap was dat veerkragtigheid nie bloot ʼn ingebore eienskap is nie, maar ʼn vaardigheid wat met die regte ingesteldheid en praktiese hulpmiddels ontwikkel kan word.
Mariska Potgieter, een van die bywoners van die geleentheid, sê die aanbieding het haar opnuut laat besef hoe belangrik rustigheid in die werkplek is.
“Om veerkragtig te kan wees moet jy eers rustig en kalm kan wees,” sê sy.
Volgens Potgieter is dit soms die eenvoudigste gewoontes wat ʼn groot verskil maak. Sy verwys onder meer na die belangrikheid daarvan om etenstye behoorlik te benut om deur die dag ʼn gevoel van rustigheid te handhaaf en genoeg rus in te kry.
Meer as net ʼn geleentheid om te leer
Benewens Van Beek se aanbieding het die dag se program ook ruimte geskep vir ontspanning, lekker gesels en die uitruil van idees. Bywoners is aan Akademia se Aanboord-kursusse bekendgestel, terwyl Thackwray ook ʼn interessante aanbieding oor essensiële olies en die gebruik daarvan in die konteks van welstand gegee het.
Volgens Thackwray is die bou van ʼn gemeenskap van MHB-praktisyns een van dié jaarlikse geleentheid se hoofdoelwitte. Deur verhoudings te vestig en kennis met mekaar te deel, kan praktisyns saam oplossings vind vir uitdagings wat hulle in die werkplek ervaar.
Hierdie tweede MHB-dag het opnuut beklemtoon dat die welstand van werknemers nie losgemaak kan word van die welstand van die mense wat hulle ondersteun nie. Wanneer MHB-praktisyns self toegerus, gemotiveerd en veerkragtig is, kan hulle ʼn nog groter bydrae tot gesonde en suksesvolle werksomgewings lewer.
Met dié geleentheid bou Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling voort aan ʼn groeiende netwerk waar MHB-praktisyns nie net erkenning ontvang nie, maar ook ʼn gemeenskap vind waarop hulle kan staatmaak.
Bly ingeskakel by Solidariteit se werkfasiliteringsafdeling om seker te maak dat jy nie toekomstige geleenthede soos hierdie een misloop nie!