Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Meer as ʼn titel en ʼn balkie: Jong leiers leer om te dien by Solidariteit se Hoofleierontbyt
Deur Kyla-Ann du Toit
Leierskap gaan oor veel meer as ʼn titel of ʼn balkie op jou skoolbaadjie. Dit gaan oor die verskil wat jy in ander mense se lewens maak. Dít was die boodskap tydens Solidariteit se Hoofleierontbyt vir 2026, waar jong leiers byeengekom het om meer te leer oor die waarde van diensbare leierskap.
Op 23 Oktober 2026 het hoofleiers van die top- Afrikaanse skole in Gauteng by Loft at Nine in Menlo Park byeengekom vir Solidariteit se jaarlikse Hoofleierontbyt.

Die geleentheid is daarop gemik om die hoofleiers van 2027 te vier en hulle toe te rus vir die verantwoordelikhede wat op hulle wag. Dit bied jong leiers ook die geleentheid om met ander skoolleiers te netwerk en te ontdek hoe hulle ʼn betekenisvolle verskil in hul skole en gemeenskappe kan maak.
Leierskap begin by diensbaarheid
Mari Ferreira, netwerkorganiseerder van Solidariteit se Skoliere-aanbod, het die gaste verwelkom en die doel van die geleentheid toegelig. Sy het die jong leiers bekendgestel aan Solidariteit se Skoliere-aanbod en die #LeerMyLeierskap-reeks, wat daarop gemik is om skoliere toe te rus met die kennis en vaardighede wat hulle op hul leierskapsreis nodig het.

“Om as hoofleier gekies te word, is ʼn reuse-verantwoordelikheid, maar ook ʼn ongelooflike groot voorreg. Ons eer en vier hierdie jong leiers en berei hulle terselfdertyd voor vir 2027 se leierskapsjaar,” sê sy.
Die oggend is geopen met Skriflesing en gebed deur ds. Lean van Kaleo-gemeente.

Die waarde van ʼn diensbare leier
Elize-Mari Coetzer, departementshoof van Bestuurswetenskappe aan Akademia se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het die jong leiers oor leierskap en diensbaarheid toegespreek. Met meer as 16 jaar se ervaring in hoër onderwys het sy waardevolle insigte oor spanwerk, verantwoordelikheid en goeie tydbestuur gedeel.
Met die Springbokke se bekende “bomb squad” as voorbeeld het sy verduidelik dat goeie leierskap nie oor individuele prestasies gaan nie, maar oor ʼn span wat saamwerk, mekaar ondersteun en ʼn gemeenskaplike doel nastreef.
Coetzer het ook na Moeder Teresa as ʼn voorbeeld van diensbare leierskap verwys en die hoofleiers aangemoedig om ander te dien, hul tyd doelbewus te bestuur en nie oorweldig te raak deur die verantwoordelikhede wat voorlê nie.

Sy het die leerders herinner om hul leierskapsjaar een dag op ʼn slag aan te pak, maar ook om die ervaring ten volle te geniet.
“Onthou, ons moenie doodgaan met drome nie, maar met herinneringe,” sê sy. “Hierdie is die beste tyd van jou lewe!”
ʼn Nuwe perspektief op leierskap
Koben Hofmeyr het as gasspreker opgetree en sy perspektief op leierskap met die skoliere gedeel.
Hy het sy persoonlike verhaal met die leerders gedeel van herstel en deursettingsvermoë toe sy lewe op net 15-jarige ouderdom ingrypend verander het ná ʼn ernstige rugbybesering (luister hier meer oor sy storie).

Koben se getuienis het veral ʼn besondere indruk op Eric Marais, 2027-hoofseun van CVO Skool Pretoria, gemaak.
“My hoogtepunt van die dag was hoe Koben Hofmeyr vertel het van hoe hy opgestaan het en hoe hy Jesus in ander mense gesien het, en hoe hy ook nou sy lig wil uitstraal. Ek hoop ek sal ook ʼn leier wees en my lig sal uitstraal vir ander om te sien,” sê Marais.
Sy verhaal het die jong leiers herinner dat uitdagings en terugslae deel van die lewe is, maar dat die manier waarop ʼn mens daarop reageer, ook ʼn invloed op ander kan hê.
ʼn Gemeenskap wat jong leiers ondersteun
Solidariteit se Hoofleierontbyt gaan egter oor veel meer as die kennis wat tydens die geleentheid gedeel word. Dit herinner jongmense ook daaraan dat hulle deel is van ʼn groter gemeenskap wat in hul potensiaal glo en hulle op hul pad vorentoe wil ondersteun.
Verteenwoordigers van Akademia en Sol-Tech se studenterade was ook by die geleentheid teenwoordig. Hierdeur kon die hoofleiers met studente gesels, meer oor die lewe ná skool uitvind en die verskillende studierigtings en opleidingsgeleenthede wat op hulle wag, verken.
Die leerders is ook bederf met musiek deur die bekende sanggroep ONS en heerlike vingerhappies. Hulle kon verder met ʼn 360-grade-kamera prettige videoherinneringe aan die dag vasvang en met ander hoofleiers netwerk oor die leierskapsjaar wat voorlê.

Jong leiers wat ʼn verskil maak
Vir die hoofleiers was die ontbyt nie net ʼn geleentheid om nuwe mense te ontmoet nie, maar ook om met vars idees en nuwe perspektiewe hul volgende hoofstuk as skoolleiers aan te pak.
Martinique Erasmus, 2027-hoofmeisie van CVO Skool Pretoria, sê dit was vir haar besonders om ander jong leiers te ontmoet wat dieselfde verantwoordelikhede as sy gaan aanpak.
“Ek het vandag regtig baie geniet. Dit was lekker om ander mense te ontmoet wat in dieselfde posisie as ek is. Die atmosfeer by die geleentheid was baie lekker en gemaklik, en ek het baie geleer,” sê Erasmus.
Vir Joshua Kekana, 2027-hoofseun van Die Hoërskool Wonderboom, was die belangrikste les van die dag dat leierskap in diensbaarheid lê.
“Ek het vandag geleer dat jy meer moet dien as wat jy moet lei. Leierskap gaan nie net oor die balkie of om leiding te neem nie, maar om mense te dien en na hulle te luister,” sê Kekana.

Een ding is duidelik: Ware leierskap word nie gemeet aan die balkie op jou baadjie of jou titel nie, maar aan die verskil wat jy in ander se lewens maak. Met dié boodskap begin die hoofleiers van 2027 hul leierskapsjaar, gereed om nie net leiding te neem nie, maar ook te dien.
Klik hier vir meer inligting oor Solidariteit se Skoliere-aanbod en die talle waardevolle hulpbronne wat skoliere tydens hul hoërskoolloopbaan kan ondersteun.