loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
solidariteit-help-om-hoop-te-skep-op-wereldsigdag

Fotokrediet: Solidariteit

Solidariteit help om hoop te skep op Wêreldsigdag

Deur Kyla-Ann du Toit

Vir iemand wat met sigprobleme sukkel, kan ʼn eenvoudige oogoperasie ʼn wêreld se verskil maak. Dit kan beteken dat iemand weer ʼn geliefde se gesig duidelik kan sien, ʼn boek kan lees of alledaagse take met groter selfstandigheid kan aanpak.

Op Vrydag 16 Oktober 2026 het die Pretoria Ooginstituut (POI) weer sy deure vir die jaarlikse Wêreldsigdag-inisiatief oopgemaak. Tydens die geleentheid het ongeveer 120 pasiënte die geleentheid gekry om katarakbehandeling te ondergaan – ʼn ingryping wat hul lewensgehalte aansienlik kan verbeter.

Solidariteit se mediese beroepsnetwerke het vanjaar weer aan hierdie besondere inisiatief deelgeneem. Tydens die geleentheid het mediese kundigheid, gemeenskapsbetrokkenheid en omgee saam ʼn werklike verskil in talle mense se lewens gemaak. Solidariteit is reeds sowat vier jaar by die inisiatief betrokke.

Tydens hierdie jaarlikse inisiatief span mediese personeel en verskeie rolspelers saam om pasiënte te help wat andersins nie toegang tot die nodige oogbehandeling sou hê nie.

Volgens Pierru Marx, bestuurder van Solidariteit se mediese beroepsnetwerke, gaan die inisiatief nie bloot daaroor om pasiënte se sig te verbeter nie, maar ook om hul vryheid en selfstandigheid te help herstel.

“Vandag word sowat 120 pasiënte gehelp om hul katarakte te verwyder, nie net sodat hulle môre weer kan sien nie, maar ook om weer vir hulle daardie vryheid terug te gee,” sê Marx.

Marx beskryf die geleentheid as ʼn groot familie wat saamwerk om pasiënte in nood te help en hul lewens te verbeter.

As deel van Solidariteit se betrokkenheid by die projek was TheraPaws se terapiehonde teenwoordig. Hulle het ʼn bietjie vreugde en vertroosting gebring aan pasiënte wat vir behandeling gewag het.

Tien studente in tuisversorging aan die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut het vanjaar ook ʼn besondere rol tydens die inisiatief vervul.

Die studente het die verpleegpersoneel bygestaan met die versorging en ondersteuning van pasiënte. Só kon hulle hul opleiding in ʼn praktiese mediese omgewing toepas en eerstehands ervaar watter verskil toegewyde gesondheidsorg in mense se lewens maak..

Volgens Nadia Stander, ʼn student aan die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut, het hulle die personeel met hul daaglikse take gehelp, met pasiënte gesels, hulle na die operasiesaal vergesel en hulle ná hul prosedures verder ondersteun.

“Dit is vir my as student ʼn baie goeie ervaring. Ek voel elke student wat in die mediese of versorgingsveld studeer, behoort so iets te kan beleef. Dit is ʼn unieke ervaring! Elke pasiënt is hier vir ʼn prosedure wat hul lewe kan verander,” vertel Stander.

Vir hierdie toekomstige beroepslui was die dag nie bloot ʼn geleentheid om ander te help nie. Dit het hulle ook die kans gebied om hul kennis prakties toe te pas, nuwe vaardighede aan te leer en waardevolle ervaring in ʼn hospitaalomgewing op te doen.

Delmei Delport, bestuurder van kommunikasie en bemarkingsprojekte by die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut, beklemtoon die waarde van hierdie praktiese ervaring vir die studente.

“Dit is vir ons ʼn groot voorreg dat ons studente vandag die personeel van die POI met die prosedures kan bystaan. Ons wil die POI bedank vir die ongelooflike blootstelling en leergeleentheid wat hulle aan ons studente bied, asook die geleentheid om hul eerste ervaring in ʼn werklike hospitaalomgewing op te doen,” sê Delport.

Sulke geleenthede sluit aan by die doel van Solidariteit se mediese beroepsnetwerke om jongmense reeds vroeg in hul loopbane aan die beroepswêreld bloot te stel. Dit help studente om ʼn beter begrip van die verskillende mediese beroepe te ontwikkel en terselfdertyd hul professionele netwerke te begin bou.

Volgens Solidariteit se mediese beroepsnetwerke bied praktiese blootstelling van hierdie aard studente die geleentheid om hul kennis verder uit te brei en ingeligte besluite oor hul toekomstige beroepsrigting te neem.

Vir Solidariteit gaan betrokkenheid by ʼn geleentheid soos die POI se Wêreldsigdag-inisiatief oor meer as net ondersteuning op die dag self. Dit bied ook ʼn geleentheid om bande binne die mediese gemeenskap te versterk en die volgende geslag beroepslui by die beroepsnetwerke te betrek.

“Dit is vir ons elke jaar ʼn groot voorreg om deel van hierdie dag te vorm,” sê Marx.

Wêreldsigdag herinner ons daaraan dat ʼn mens dikwels die grootste verskil maak deur jou kennis, vaardighede en tyd te gebruik om ander te help.

Solidariteitis trots om weer vanjaar deel van hierdie inisiatief te kon wees en jongmense die geleentheid te bied om hul plek in die mediese beroep te begin vind.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel