Fotokrediet: Solidariteit
Gekopieër
Die media, afleggings en die druk van ʼn nuwe mediawêreld
Deur Johan Roos, arbeidsverhoudinge-organiseerder by Solidariteit
Aan die begin van Augustus 2026 het Media24 met ʼn artikel 189-proses begin. Dit was egter nie die enigste mediamaatskappy waar werknemers onsekerheid oor hul toekoms beleef het nie. Ook by Novus en eNCA was afleggingsprosesse aan die gang, terwyl gerugte oor verdere moontlike afleggings deur die bedryf versprei het.
Die mediabedryf verkeer reeds geruime tyd onder geweldige druk. Tradisionele mediamaatskappye ding nie meer net met mekaar mee nie. Groot tegnologiemaatskappye soos Meta en Google neem ʼn groot deel van die advertensie-inkomste op, terwyl podsendings, beïnvloeders, onafhanklike digitale platforms en selfs TikTok om dieselfde gehore se aandag meeding.
Dit skep ʼn nuwe mediawêreld waarin tradisionele publikasies krimp en gevestigde sakemodelle nie meer dieselfde sekerheid bied nie. Werknemers dra egter dikwels die swaarste gevolge van strategiese besluite en veranderinge waaroor hulle geen beheer het nie.
Solidariteit het 30 lede gedurende die Media24-proses verteenwoordig. Dit was ook nie die eerste keer dat ons met grootskaalse veranderinge in die mediabedryf te doen gekry het nie. Sedert 2024 was Solidariteit reeds by vier soortgelyke prosesse betrokke of het ons lede daardeur bygestaan.
Ten spyte van die druk op tradisionele media bly Media24 ʼn groot onderneming met aansienlike finansiële, regs- en mensehulpbronne. Die individuele werknemer wat skielik met moontlike aflegging gekonfronteer word, beskik eenvoudig nie oor dieselfde hulpbronne of bedingingsmag nie.
Dit is juis hier waar ʼn vakbond soos Solidariteit ʼn wesenlike verskil kan maak. Binne die Suid-Afrikaanse arbeidsverhoudingestelsel is ʼn vakbond een van die belangrikste instrumente waardeur die speelveld tussen werkgewer en werknemer meer gelyk gemaak kan word.
ʼn Afleggingsproses is nie bloot ʼn oefening in getalle, strukture en kostebesparings nie. Vir werknemers gaan dit oor hul inkomste, loopbane, gesinne en toekoms. Dit is besonder moeilik wanneer werknemers weet dat hulle nie self die omstandighede veroorsaak het nie, maar tog die gevolge daarvan moet dra. Hulle beleef dikwels onsekerheid, frustrasie en ʼn gevoel van magteloosheid.
Oor ʼn tydperk van ongeveer twee maande het ek en Helgard Cronje, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit, namens ons lede aan die proses deelgeneem. Ons doel was van die begin af om soveel moontlik poste te behou en om, waar mense wel sou vertrek, die beste moontlike skeidingspakket vir hulle te beding.
Dit het lang ure, deeglike voorbereiding en verskeie rondes van konsultasie vereis. Ons het die werkgewer se sakemotivering bevraagteken, verdere inligting aangevra, alternatiewe voorgestel en oor die voorgestelde strukture, keuringskriteria en skeidingsvoorwaardes onderhandel.
Ná weke se onderhandeling het ons nie net gehelp om ʼn verbeterde vrywillige skeidingspakket te beding nie, maar is daar ook genoeg beweging in die proses verkry om verdere gedwonge afleggings te voorkom. Werknemers wat aanvanklik die gevaar geloop het om hul werk te verloor, kon uiteindelik geakkommodeer word.
Die uitkoms beteken nie dat die proses maklik of sonder verlies was nie. Verskeie ervare werknemers het vrywillige skeidingspakkette aanvaar, en Media24 verloor daarmee jare se kennis en ervaring. Dit het egter beteken dat werknemers keuses kon uitoefen en dat niemand bloot sonder beskerming aan die proses uitgelewer was nie.
Dié ervaring het weer vir my gewys hoe belangrik ʼn beroepsgemeenskap is. Werknemers in kommunikasie, bemarking en die media het nie net beskerming nodig wanneer afleggings aangekondig word nie. Hulle het ook ʼn ruimte nodig waar hulle met mekaar kan praat, kennis kan deel, netwerke kan bou en saam oplossings kan vind.
Die nuwe mediawêreld bring groot onsekerheid, maar ook nuwe moontlikhede. Mense beweeg toenemend tussen tradisionele publikasies, vryskutwerk, digitale platforms, korporatiewe kommunikasie en hul eie ondernemings. ʼn Sterk beroepsgemeenskap kan werknemers help om hierdie veranderinge nie alleen te probeer trotseer nie.
Die Media24-proses het gewys wat moontlik is wanneer werknemers saamstaan en deur ʼn georganiseerde struktuur verteenwoordig word. In ʼn bedryf wat voortdurend verander, gaan Solidariteit se rol nie net daaroor om werk te beskerm nie. Dit gaan ook daaroor om mense toe te rus, met mekaar te verbind en hulle te help om binne die nuwe mediawêreld ʼn volhoubare toekoms te bou.
Word deel van jou beroepsgemeenskap op Solidariteit en kry toegang tot die nodige ondersteuning, beskerming en loopbaanontwikkeling om jou volle potensiaal te bereik!