Fotokrediet: Pexels
Gekopieër
Afleggings by Ferroglobe nou ’n werklikheid – Solidariteit hoop op spoedige uitsluitsel oor kragtarief
Die afleggingsproses by Ferroglobe in Witbank is afgehandel en werknemers sal oor ʼn periode van ʼn paar maande uitgefaseer word, het Solidariteit vandag bekend gemaak.
Ferroglobe het vroeër ’n artikel 189-proses van stapel gestuur weens die druk wat, onder meer, hoë elektrisiteitskoste op sy bedrywighede plaas. Dié proses sloer reeds ’n geruime tyd en die afleggings gaan nou voort.
Volgens Cornelius van Leeuwen, sektorkoördineerder vir die metaal- en ingenieursbedrywe by Solidariteit, het die uitgerekte tydperk van onsekerheid nou plek gemaak vir ’n werklikheid waarin werknemers hul werk gaan verloor.
“Die afleggingsproses is afgehandel en werknemers se poste word nou definitief geraak. Dit is ’n baie moeilike situasie vir die werknemers en hul gesinne wat nou voor die verlies van inkomste te staan kom,” sê Van Leeuwen.
Solidariteit is terselfdertyd bekommerd oor die gebrek aan uitsluitsel rakende ’n moontlike verlaagde kragtarief vir Ferroglobe.
“Ons besef verskeie partye is betrokke by hierdie proses en die besluit is nie noodwendig eenvoudig nie. Ter wille van werksbeskerming vra ons egter vir die nodige aandag aan die proses en ’n spoedige afhandeling daarvan,” sê Van Leeuwen.
Solidariteit sal voortgaan met gesprekke met die betrokke rolspelers in ’n poging om werk by Ferroglobe sover moontlik te beskerm.