Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Groot Solidariteit-deurbraak in uitspraak oor ras by Eskom
Solidariteit hoop ’n arbeidshofsege namens een van sy lede, wie se aansoek vir ’n bestuurspos by Eskom weens sy velkleur geweier is, sal ’n sterk boodskap na buite stuur.
Regter Hilary Rabkin-Naicker het in die arbeidshof in Kaapstad bevind daar is teen Alwyn Erasmus gediskrimineer toe hy ná 30 jaar se diens by Eskom nie in ’n noodsaaklike pos waarvoor hy aansoek gedoen het, aangestel is nie.
Amptenare in beheer van gelyke indiensneming by Eskom se voorskrif dat slegs “swart mans asook vroue van enige rasgroep voorkeur moet geniet”, het Erasmus se aansoek benadeel, selfs al was hy juis die geskikte kandidaat wat ’n senior bestuurder by Eskom wou aanstel.
Volgens die senior bestuurder kon Eskom nie bekostig om Erasmus se vaardighede te verloor nie, en tog het Eskom besluit om geen wit mans vir die rol te oorweeg nie.
Erasmus het die besluit bevraagteken.
Ná ’n onsuksesvolle poging by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) het Solidariteit namens Erasmus die arbeidshof genader.
In dié uitspraak sê die hof dat hierdie onbuigsame manier waarop die kortlys van kandidate op grond van ras saamgestel is, as ’n absolute plafon gesien moet word vir lede van nie-aangewese groepe wat met kandidate in die gelyke-indiensnemingsgroep meeding, en dat geen genuanseerde benadering gevolg is nie.
Volgens die uitspraak is dit dus teenstrydig met regstellendeaksiewetgewing en ’n vergryp teen die aansoeker se reg tot waardigheid en gelykheid.
Hierdie uitspraak strook ook duidelik met Solidariteit se 2023-skikking met die regering waarvolgens ras nie as die enigste maatstaf in regstellende aksie mag geld nie.
Anton van der Bijl, adjunkbestuurshoof van Solidariteit, sê hy is verheug dat Erasmus op dié manier gehelp kom word.
“Tog is dit ’n absolute klad op Eskom se naam dat sulke blatante rassevergrype met sy goedkeuring gepleeg is. Nie net is dit direk teenstrydig met sy werkgewer, naamlik die staat, se skikking met Solidariteit nie, maar ook ’n klap in die gesig van hardwerkende Eskom-werknemers.
“Daar word daagliks van hulle verwag word om waarde tot die maatskappy toe te voeg – ongeag hulle ras. Maar dan, wanneer hulle waarde geweeg moet word, word hulle wél op grond van ras beoordeel. Ons kan en sal eenvoudig nie sulke blatante rassisme duld nie,” sê Van der Bijl.
Ofskoon Eskom kragtens die uitspraak nie verplig word om Erasmus in die betrokke pos aan te stel nie, moet hy 18 maande se salaris as vergoeding ontvang – ʼn bedrag wat miljoene kan beloop.
Eskom mag ook nie weer in die toekoms enigiemand vanuit nie-aangewese groepe weens hulle verkleur van ’n kortlys vir ’n pos verwyder nie.
Solidariteit gaan voort om vir sy lede in die werkplek te veg – veral in gevalle waar daar op grond van ras teen hulle gediskrimineer word, wat dikwels met die goedkeuring van die owerhede gebeur.
Daar word reeds groter internasionale aksies beplan om regstellendeaksiewetgewing, soos dit in Suid-Afrika toegepas word, finaal ’n nekslag toe te dien.
Kyk hier na die hofuitspraak.