
Foto Krediet: Unsplash
Gekopieër
NGV gaan meer laat sterf
Deur Nico Strydom
Die regering se Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal nie mediese dienste vir enige iemand verbeter nie, maar sal eerder tot gevolg hê dat mense gaan sterf aan siektes wat nou maklik behandelbaar is.
Volgens Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), sal dit die dienste vir almal wat tans van private gesondheidsorg gebruik maak dramaties verswak en medici landuit dryf.
“Daar sal op baie plekke nie meer mediese dienste bestaan nie. Die NGV sal ook meebring dat private mediese dienste beskikbaar raak waar dit tans nie bestaan nie. Waar dienste wel beskikbaar is, sal ʼn mens uitgelewer wees aan ʼn lang verwysingsproses en streng beperkings op watter medikasie beskikbaar is. Die staat sal bepaal na watter dokter toe jy mag gaan. Daar sal lang wagtydperke wees en jy sal eers by ʼn spesialis uitkom as dit té laat is.”
Die Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is in Junie 2023 jaar deur die Nasionale Vergadering aanvaar en in Desember deur die Nasionale Raad van Provinsies. Dit is pas deur pres. Cyril Ramaphosa vir onderteken.
Daar is aanvanklik verwag dat die begrotingsrede meer omtrent die finansiering van die NGV sou aandui, maar die NGV is skaars vermeld in die begrotingsrede.
Die regering voer aan die NGV gratis gesondheidsorg aan almal sal bied. Die NGV sal egter nie gratis wees nie, maar eerder onbekostigbaar, verduidelik Du Buisson. “Dit sal omtrent 13% van jou totale inkomste eis, buiten die belasting wat jy reeds betaal. Selfs mense wat tans te min verdien om inkomstebelasting te betaal en wat tans hul gesondheidsorg gratis in die openbare sektor kry, sal hiervoor moet opdok. Vir baie mense sal dit duurder wees as wat lidmaatskap van ʼn mediese fonds sou kos, en dit vir veel swakker sorg. Dit sal die land omtrent R660 miljard kos, waarvan amper R300 miljard nie uit die gesondheidsbegroting gedek kan word nie en uit nuwe belastings opgemaak sal moet word. Suid-Afrika kan dit nie bekostig nie en die algemene mens nog minder.”
Volgens die regering sal die NVG ʼn fonds wees waaruit die regering gesondheidsorgdienste vir Suid-Afrikaners by gesondheidsorgverskaffers in die openbare en private sektor sal aankoop. Du Buisson meen indien daar na die voorgestelde verwysingsproses in die NGV gekyk word, is dit ook duidelik dat dienste vir niemand kan verbeter nie.
“Tans kan enige persoon ʼn afspraak by ʼn dokter maak en dan daarvoor betaal. In ʼn NGV-bedeling sal die eerste verwysingspunt waarskynlik ʼn staatskliniek wees, waar daar eers besluit sal moet word of jy ʼn dokter mag sien. Die NGV is ook baie streng oor watter medikasie en prosedures gedek sal word, en baie dienste wat tans in sowel die openbare as private stelsels beskikbaar is, sal nie onder die NGV gedek wees nie.”
Daar is baie lande waar soortgelyke gesondheidsorgstelsels in gebruik is, maar anders as wat die lande se regerings glo, meen Du Buisson dit werk nie in een van daardie lande goed nie. “In Kanada en Brittanje is daar soms wagtydperke van tot ʼn paar jaar vir sekere prosedures.
Hier in Suid-Afrika kan dit glad nie werk nie, want ons het ʼn hemelhoë werkloosheidskoers en as gevolg van ons verswakkende ontwikkelingsvlak verdien mense wat werk ook al minder. Die befondsing, wat die kern van die NGV is, sal daarom ʼn té groot las plaas op almal wat werk omdat dit nie deur die hele bevolking gedeel word nie.
“Die NGV sal tot ʼn mate ʼn vennootskap wees waarin die staat die befondsing deur middel van belasting gee, en die private sektor die meeste dienste lewer. Dit is waar die vennootskap sal eindig. Mediese fondse, soos ons hulle tans ken, sal glad nie meer bestaan nie. Die staat sal dus instellings wat oor jare opgebou is, vernietig en ʼn substandaardstelsel in die plek daarvan oprig.”
Solidariteit se regstryd teen die vernietigende NGV het binne die eerste uur nadat pres. Cyril Ramaphosa dié wetsontwerp onderteken het, begin.