
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering oor Bela staan vas
Deur Dr. Dirk Hermann
Ten spyte van die protesstemme wat opgaan, staan die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering vas.
Die ooreenkoms is deur Solidariteit, die Ministerie van Basiese Onderwys en die Presidensie onderteken.
Die ooreenkoms is wettig en kan nie deur luidrugtige teenkanting verwerp word nie.
Volgens die ooreenkoms sal die omstrede Bela-artikels nie meer op 13 Desember in werking tree nie.
Die ooreenkoms vereis dat norme en standaarde, regulasies en nasionale beleid eers gefinaliseer moet word voordat die betrokke artikels geïmplementeer kan word.
Verder spesifiseer die ooreenkoms sekere inhoud van die norme en standaarde en regulasies wat die brandpunte van Bela hanteer. Wysigings aan die wet word ook nie uitgesluit nie.
Solidariteit het as die applikant in die Nedlac-saak opgetree, terwyl die respondente die president van Suid-Afrika en die minister van basiese onderwys was.
Die Presidensie is deur ʼn senior afvaardiging verteenwoordig, insluitend adv. Geoffrey Mphaphuli (waarnemende hoof van die regsdepartement), Matsietsi Mekoa (adjunk-direkteur-generaal in die Presidensie) en Sydney Mashiloane (direkteur van organisasie-ontwikkeling).
Roshene Singh, personeelhoof van president Ramaphosa, was ook deurgaans by die kommunikasie ingesluit.
Die Presidensie se afvaardiging was behoorlik gemandateer en het gereeld na hul mandaat verwys, soos vervat in die notules van die Nedlac-proses. Die ooreenkoms is deur Matsietsi Mekoa namens die Presidensie onderteken.
Die Ministerie van Basiese Onderwys is verteenwoordig deur Michael Wilter (spesiale raadgewer van die minister) en Chris Leukes (waarnemende hoofdirekteur van regsdienste van die Departement van Basiese Onderwys). Albei was behoorlik gemandateer en Michael Wilter het die ooreenkoms namens die departement onderteken.
Solidariteit is verteenwoordig deur Flip Buys (voorsitter van die Solidariteit Beweging), dr. Dirk Hermann (bestuurshoof van Solidariteit), Anton van der Bijl (adjunkbestuurshoof verantwoordelik vir regsake by Solidariteit), en Werner Human (bedryfshoof van die Solidariteit Beweging). Dr. Dirk Hermann het die ooreenkoms onderteken.
ʼn Tweede bilaterale ooreenkoms tussen Solidariteit en die Minister van Basiese Onderwys is ook onderteken wat die besonderhede van die minister se aanbevelings beskryf het.
Hoewel die inhoud van die dokument nie bekend gemaak mag word nie, kan bevestig word dat die ooreenkoms grootliks gebaseer is op ʼn gesamentlike dokument wat deur die Presidensie en die Ministerie van Basiese Onderwys aan Solidariteit voorgelê is.
Daar is geen sprake van betrokkenheid deur ʼn politieke party of net ʼn DA-minister nie. Die proses het uitsluitlik met die regering plaasgevind.
Net so min as wat die minister die DA is, is die Presidensie die ANC.
Adjunkpresident Paul Mashatile, wat deel is van die Presidensie, het kritiek op die ooreenkoms gelewer, maar hy is ook gebind deur die ooreenkoms. Dit dui op verdelingslyne binne die ANC wat ook in die Presidensie neerslag vind.
Die ooreenkoms is ʼn oplossing van die dispuut sonder dat daar enige verloorders is. Die minister en die president kom eenvoudig hul onderskeie pligte na.
President Ramaphosa kan nie die Bela-artikels op eie gesag in werking stel nie, veral nie as die minister hom anders adviseer nie.
Die nodige norme en standaarde moet eers ontwikkel word, en dit kan tot 18 maande duur.
Indien president Ramaphosa om ʼn onverklaarbare rede die artikels in werking sou stel, sal Solidariteit, met die ooreenkoms in die hand, hof toe gaan. Solidariteit is in ʼn baie sterk posisie.
Hierdie ooreenkoms troef nie die RNE-proses nie; die RNE moet self tot hul gevolgtrekkings kom. Eweneens kan die RNE-proses nie die Nedlac-proses troef nie.
Vir die huidige is die Bela-kwessie minstens voorlopig opsy geskuif. Daar is tyd gekoop, en harde gesprekke lê voor.
Die president ignoreer in sy verklaring dat die Presidensie ʼn mede-ondertekenaar van die ooreenkoms is wat deur Nedlac gefasiliteer is. Die Presidensie reik dus ʼn verklaring uit waarin hulle die Presidensie se rol ontken.
Die Presidensie is aan die ooreenkoms gebonde. Dit is nie net ʼn bilaterale ooreenkoms met die Minister van Basiese Onderwys nie.
Solidariteit se ooreenkoms is met die regering aangegaan en is deur die Presidensie en die Ministerie van Basiese Onderwys onderteken.
Solidariteit verwelkom egter die druk wat nou op die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) geplaas word om hul werk te doen. Die RNE moet op hul eie ʼn aanbeveling oor die Bela-wet ontwikkel.
Die Nedlac-proses en die RNE-proses staan elkeen op hul eie. Die prosesse sluit mekaar nie uit nie en kan mekaar selfs komplementeer. Solidariteit sal die uitkoms van die Nedlac-proses as ʼn inset aan die RNE deurgee.
Die regering is ook gebonde aan die ooreenkoms wat met Solidariteit bereik is. Die Regering van Nasionale Eenheid kan nie tot die gevolgtrekking kom dat Bela nou in sy geheel geïmplementeer moet word nie. Dit sal onregmatig wees, en Solidariteit sal nie huiwer om enige onregmatige besluit in die hof te toets nie.
Die Nedlac-ooreenkoms staan vas. Geen proses kan bepaal dat Bela op 13 Desember geïmplementeer moet word nie.