
Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Landswye raad aanvaar resolusie oor hoe om SA werkers te beskerm
Solidariteit se Nasionale Raad-vergadering in Centurion het vandag ʼn resolusie aanvaar om ’n omvattende Beskermingsplan wat Solidariteit al vir jare ontwikkel, in werking te stel. Dit is ʼn waterskeidingsoomblik waar honderde verteenwoordigers, wat meer as 200 000 werkers verteenwoordig, van regoor Suid-Afrika Solidariteit se Hoofraad getaak het om met direkte inmenging beleidsverandering mee te bring, die oprig van skole en hoër-onderwysinstellings drasties te versnel en om self bilaterale ooreenkomste met die buiteland te vestig.
Die Nasionale Raad is die hoogste gesags- en besluitnemingsliggaam van Solidariteit. Dit is terselfdertyd die grootste verteenwoordigingsliggaam van, onder andere, minderhede in die werkplek en bestaan uit verkose verteenwoordigers uit al nege provinsies en verskeie ekonomiese sektore. Tydens die Nasionale Raad-vergadering word die strategiese fokusareas vir die volgende jaar bepaal. Op grond hiervan word opdragte aan die Hoofraad en Solidariteit se leierskap gegee oor watter sake in die komende twaalf maande namens lede geprioritiseer moet word.
Die Solidariteit Beskermingsplan is ook ʼn antwoord op die internasionale onstuimigheid en die regering se ongewilde rasse-ideologie wat gewone Suid-Afrikaners se inkomste kwesbaar maak.
Die plan word op vier fronte geïmplementeer:
1. Beskerming teen diskriminasie: Grootskaalse litigasie word van stapel gestuur teen rassewette in Suid-Afrika en ʼn fonds van R7 miljoen word gestig met die enkele doel om rassewette te laat afskaf.
2. Beskerming van opleiding: Die beplanning vir die bou van skole deur die Gimnasium-konsessie gaan versnel om so gou moontlik te verseker dat Afrikaanse skole landswyd uitgerol kan word. Verder word beplanning vir die uitbreiding van Akademia, Sol-Tech, Bo-Karoo Opleiding en Helpende Hand Opleidingsinstituut drasties versnel, van die Paarl tot in die Karoo.
3. Beskerming van inkomste: Geleenthede word geskep om lede finansieel te verskans teen ʼn swak ekonomie met unieke beleggingsgeleenthede wat die eerste keer aan lede beskikbaar gestel gaan word. Verder word veldtogte rondom belasting beplan sodat mense meer en meer self staatsfunksies kan vervul. Die grootste werkfasiliteringsplatform, waar aanstellings slegs op meriete gebaseer is, word ook uitgebou om internasionale poste te adverteer. Nog ʼn eerste van sy soort, is die arbeidsregskletsbot in Afrikaans wat aan lede beskikbaar gestel gaan word om hulle by te staan met arbeidsregtelike kwessies.
4. Beskerming van internasionale verhoudinge: Solidariteit beplan dus opvolgbesoeke aan die VSA om unieke ooreenkomste namens werkers te vestig, en vir die eerste keer word Solidariteit getaak om namens lede ooreenkomste met Afrika-lande onderhandel.
Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is die Beskermingsplan deel van antwoorde waaraan Solidariteit al 30 jaar lank skaaf wetend dat skadelike regeringsideologie gevolge gaan inhou, in afwagting van tye soos hierdie. Dit is die grootste poging nóg om sowat 200 000 gesinne se energie op een plan te rig.
“Hierdie plan is dus ontwikkel om nie net die onstuimige ekonomie te oorleef nie, maar om daarin te floreer. Ons sê ʼn toekoms is nie moontlik sonder ʼn inkomste nie en ʼn inkomste is nie moontlik sonder werk nie.
“Daarom het ons ʼn aksieplan nodig om lede en baie ander mense se werk en hulle kinders se toekomstige werk te beskerm deur te veg, te bou en te beskerm,” sê Hermann.
Klik hier om die volledige Solidariteit Beskermingsplan af te laai.