Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
4 dae gelede
solidariteit-dringend-in-hof-teen-lesufi-en-johannesburg-metro-oor-rasbanier

Foto Krediet: Solidariteit

Solidariteit dringend in hof teen Lesufi en Johannesburg-metro oor ‘rasbanier’ 

Solidariteit gaan op 18 November die Johannesburg-metropolisie (JMPD) op ʼn dringende basis in die Johannesburgse hooggeregshof daag ná die JMPD ʼn Solidariteit-banier onregmatig verwyder het.

Hofstukke is onder andere op Panyaza Lesufi, premier van Gauteng, en die Johannesburg-metro beteken. 

Die banier het die boodskap gedra: “Welcome to the most race-regulated country in the world” en het deel gevorm van ʼn bewusmakingsveldtog oor raswette wat Solidariteit spesifiek vir November 2025 en die G20-beraad beplan het.

Volgens Solidariteit het hulle deur middel van ʼn erkende agentskap gewerk en alle gelde vooruit betaal, ten einde te verseker dat die banier behoorlik ontwerp en vertoon word. Tog is die banier op 10 November sonder enige kennisgewing, verduideliking of regmatige proses deur stadsowerhede verwyder. 

Kort tevore het Lesufi  en enkele stadsamptenare die verwydering op sosiale media aangemoedig, toe bevestig en uiteindelik openlik toegejuig, met verwysing na die banier se “politieke boodskap”.

In die dringende aansoek voer Solidariteit aan dat die stadsraad se optrede onwettig en polities gemotiveerd was. Boonop gee die stad se eie munisipale verordeninge nie aan amptenare die mag om advertensies eensydig te verwyder nie. 

Verder het die stadsraad nooit die  vereiste kennisgewing uitgereik of ʼn verduideliking gevra nie. Dit is in stryd met die algemene beginsels van administratiewe geregtigheid, asook ʼn hofuitspraak teen die stadsraad in Augustus 2025, waarin die hof uitdruklik bevind het dat soortgelyke optrede deur die stadsraad onwettig was.

“Die banier se doel was om ʼn spieël vir die wêreld op te hou van Suid-Afrika se rasbeleid. Die regering ontken nou sy eie beleid en verwyder die banier wat daarna verwys. Die banier het nou ook ʼn spieël geword van ʼn regering wat die reg in eie hande neem en wat vryheid van spraak ondermyn. Terwyl Lesufi ʼn staatsman vir G20-lande behoort te wees, is hy nou ʼn aktivis wat baniere verwyder,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Gevolglik vra Solidariteit dat die verwydering van die banier onwettig verklaar word en dat die hof die onmiddellike herstel van die banier op dieselfde plek moet gelas, of dat die banier kosteloos aan Solidariteit terugbesorg word. 

Intussen gaan Solidariteit voort om soortgelyke advertensieborde regoor die provinsie  op te rig. 

*Sien die kennisgewing van mosie hier aangeheg.
*Sien die eedsverklaring hier aangeheg. 

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel