Afrikaans

English

loading
avatar
Artikels
1 dag gelede
brei-smelter-gesprekke-uit-maan-solidariteit

Foto Krediet: ChatGPT

Brei smelter-gesprekke uit, maan Solidariteit

Solidariteit neem met kommer kennis van nóg smelters, insluitend Ferroglobe, wat moontlik kan sluit indien hulle nie toegang tot ʼn mededingende elektrisiteitstarief kry nie.

Hierdie ontwikkeling volg kort nadat die minister van elektrisiteit en energie, Kgosientsho Ramokgopa, ʼn voorlopige kragtarief van 62c per kWh vir Glencore-Merafe en Samancor aangekondig het.

Solidariteit het dié stap verwelkom, maar terselfdertyd gewaarsku dat selektiewe verligting ander maatskappye in gevaar kan stel.

“Die risiko was altyd dat indien die 62c-tarief slegs vir sekere rolspelers geld, ander beswaar sou maak omdat hulle uit die mark gedruk word, veral na nóg ʼn 8,7%-elektrisiteitsverhoging wat vanaf 1 April geïmplementeer word,” sê Willie Venter, adjunkhoofsekretaris van Solidariteit.

Volgens Solidariteit is dit boonop dringend dat duidelikheid verskaf word oor die voorwaardes van die ooreenkoms met Glencore-Merafe en Samancor, en dat dit as ʼn bloudruk gebruik word om die res van die sektor te ondersteun.

“Ons is baie bekommerd. Ferroglobe is die enigste plaaslike ferro-silikonvervaardiger wat in Suid-Afrika oorbly. As hulle bedrywighede staak, sal dit ʼn reuseslag vir ons industriële kapasiteit en vir werknemers wees,” sê Venter.

Hy waarsku ook dat ander maatskappye, soos Transalloys, reeds onder druk verkeer.

“Ons is bekommerd oor die stadige vordering in die huidige onderhandelinge, terwyl ander maatskappye dringend verligting nodig het. Die fokus moet wees op die voorkoming van sluitings en werksverliese – nie bloot om sperdatums te haal nie.”

Solidariteit doen daarom ʼn dringende beroep op die regering en Eskom om as ʼn saak van prioriteit duidelikheid te gee oor die 62c-ooreenkoms; om gesprekke oor tariefverligting uit te brei na Ferroglobe, Transalloys en ander; om onmiddellik samesprekings met alle betrokke maatskappye te voer; en om ʼn sektorwye oplossing vir die probleem met kragtariewe te ontwikkel.

“Die regering sal eenvoudig gelyktydig met verskeie maatskappye moet saamwerk en die gesprekke met Glencore en Samancor dringend moet afhandel. Hierdie is ʼn sektor in krisis en dit benodig nou beslissende leierskap,” sluit Venter af.

Solidariteit waarsku dat duisende werksgeleenthede op die spel is en bevestig dat hy sal voortgaan om die belange van werkers te verdedig.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel