Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
16 uur gelede
skerpste-brandstofprysverhoging-nog-laat-sa-tande-kners

Foto Krediet: ChatGPT

Skerpste brandstofprysverhoging nóg laat SA tande kners

Solidariteit hoop die verwagte styging in lewenskoste as gevolg van die grootste brandstofprysverhoging in Suid-Afrika se geskiedenis sal van korte duur wees. 

Selfs nadat die Tesourie daartoe ingestem het om verligting van R3 op die brandstofheffing te gee, is hierdie brandstofprysverhoging steeds ʼn groot slag.

Veral dieselpryse het die hoogte ingeskiet met ʼn verhoging van R7,37 wat ʼn 39,6%-verhoging verteenwoordig. Dit beteken dat die brandstofkoste om ʼn vrag van Gauteng na Durban te vervoer nou meer as R2 200 duurder is. Die bykomende koste vir ʼn vrag na Kaapstad is meer as R5 300.

“Die effek daarvan is dat inflasie op alle items wat vervoer moet word skerp sal styg. Ingevoerde produkte se koste sal onafwendbaar skerper styg, omdat die impak op alle vervoerkoste wesenlik sal wees,” sê Theuns du Buisson, ekonomiese navorser van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).

Hierdie skerp styging in dieselkoste sal volgens hom ook ʼn merkbare impak op openbare vervoer hê.

“Om ʼn kostestyging van bykans 40% te absorbeer is onmoontlik. Ons kan verwag dat taxi- en busdienste in die komende weke hul pryse drasties sal opstoot. 
“Hierdie koste sal dan direk oorgedra word na mense wat reeds onder ernstige finansiële druk verkeer,” sê Du Buisson.

Alhoewel Solidariteit die verligting in die brandstofheffing verwelkom, moet die Tesourie daarteen waak om huishoudings en ondernemings onder verdere druk te plaas wanneer verlore belastinginkomste in die toekoms verhaal word.

“Daar is groot geheimsinnigheid oor die hoeveelheid fondse wat die sentrale energiefonds in rekeninge soos die egalisasiefonds hou. 

“Dit is nou die regte tyd om hierdie fondse en ander noodfondse te gebruik om te verseker dat belastingbetalers nie op die langtermyn benadeel word om vir die huidige verligting te betaal nie,” sê Du Buisson.

Hy glo egter nie dat die krisis nog uitermatig lank sal aanhou nie en sê indien die seestraat van Hormoes heropen word sal internasionale oliepryse binne weke weer terugkeer na normaal.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel