Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Staat se mislukkings oorsaak van skole wat sluit
Solidariteit se Onderwysernetwerk waarsku dat die sluiting van ʼn hoërskool in Middelburg in die Oos-Kaap en ʼn skool in Humansdorp wat byna dieselfde lot in die gesig gestaar het, nie losstaande voorvalle is nie, maar deel van ʼn groeiende tendens wat ernstige waarskuwingstekens vir Suid-Afrika se onderwysstelsel inhou.
Volgens berigte is die Hoërskool Middelburg gedwing om sy deure te sluit weens ʼn ernstige geldelike krisis, dalende leerdergetalle en ʼn onvolhoubare finansiële model.
Dit sluit in dat die skool onderwysers se salarisse self moes betaal waar die departement van onderwys versuim het om dit te doen. By Humansdorp is daar berig dat dié skool nie meer voldoende fondse gehad het om onderwysers wat deur die beheerliggaam aangestel is, te betaal nie.
“Die patroon is nietemin ontstellend,” sê Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, en hy glo die staat versaak toenemend sy verantwoordelikhede.
“Die las word op ouers, beheerliggame en skole geplaas. Wanneer die stelsel kraak, is dit uiteindelik die onderwysers en leerders wat die gevolge moet dra.
“Nou word skole al hoe meer gedwing om staatsmislukkings met opoffering en hulle eie kreatiewe metodes vir oorlewing toe te stop.
“Skole en onderwysers se kerntaak is om kinders te onderrig, nie om ʼn stelsel, wat onder finansiële druk uitmekaar val, aan die lewe te hou nie. Tog word daar al hoe meer van skole en personeel verwag om die staat se tekortkominge te absorbeer.”
Botha sê wanneer skole geldelik begin sink, raak dit veel meer as net ʼn begrotingsprobleem.
“Agter elke finansiële krisis is daar ʼn onderwyser wat onseker is oor sy of haar toekoms, ʼn leerder wat stabiliteit verloor en ʼn skoolgemeenskap wat onder geweldige druk verkeer.
“Ons kan nie voortgaan om te maak asof toegewyde onderwysers en ouers die hele onderwysstelsel op hul skouers moet dra nie,” sê hy.
Die Solidariteit Onderwysernetwerk waarsku dat hierdie gevalle ʼn aanduiding kan wees van ʼn groter strukturele krisis wat reeds besig is om in verskeie dele van die land te ontvou.
Sonder dringende ingryping en verantwoordbaarheid kan hierdie waarskuwingstekens spoedig ʼn veel groter onderwysramp voorafgaan.