Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
10 uur gelede
solidariteit-stel-padkaart-voor-vir-rasvrye-suid-afrika-teen-2030

Foto Krediet: Verskaf

Solidariteit stel padkaart voor vir rasvrye Suid-Afrika teen 2030

Laai die verslag hier af.

Solidariteit meen Suid-Afrika kan en moet teen 2030 ʼn rasvrye bedeling bereik, en het vandag ʼn omvattende padkaart wat deur die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) opgestel is om dit te bereik, bekendgestel.

Die verslag is getiteld, “Rasvry teen 2030” en bied konkrete en realistiese voorstelle om Suid-Afrika geleidelik weg te vat van rasgebaseerde wetgewing na werklike bemagtiging, gebaseer op behoefte, ekonomiese groei en werkskepping.

Volgens Connie Mulder, hoof van die SNI, het die huidige rassebedeling nie daarin geslaag om die lewens van arm Suid-Afrikaners werklik te verbeter nie.

“Die afgelope drie dekades het bewys dat rassewetgewing nie armoede, werkloosheid en ongelykheid oplos nie.

“Suid-Afrika sit vandag met rekordvlakke van werkloosheid, swak ekonomiese groei en miljoene mense sonder hoop op werk of om vooruitgang te maak. Dit is tyd om ruiterlik te erken dat die huidige bedeling nie werk nie,” sê Mulder.

Die verslag ondersoek nie bloot oppervlakkige wysigings aan bestaande rassewetgewing of alternatiewe vorms van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) nie. Dit ondersoek hoe ʼn realistiese oorgang binne die bestaande wetgewende raamwerk kan lyk om Suid-Afrika teen ‘n sperdatum van 2030 geleidelik van rassewetgewing te bevry.

“Regstellende aksie en soortgelyke maatreëls was nog altyd veronderstel om tydelik van aard te wees. Die vraag is dus eenvoudig: Waar is die eindstreep?

“Ons navorsing wys dat dit moontlik is om ʼn rasvrye Suid-Afrika teen 2030 te bereik indien daar nóú met die verantwoordelike uitfasering van hierdie beleid begin word,” sê Mulder.

Die verslag voer aan dat die huidige rassebedeling die ekonomie tot nadeel van alle Suid-Afrikaners geknou het.

Volgens die navorsing plaas die koste van SEB-nakoming ʼn enorme las op ondernemings, belegging en werkskepping, terwyl dit terselfdertyd hoofsaaklik ʼn klein elite bevoordeel het eerder as gewone, werklose Suid-Afrikaners.

Hierdie harde werklikhede van rassewette is teen die tyd welbekend en word wyd erken.

Die verslag stel daarom ʼn gefaseerde benadering voor waarin rassewetgewing stelselmatig vervang word met maatreëls wat fokus op werklike sosio-ekonomiese nood, waaronder armoede, jeugwerkloosheid, opleiding en ekonomiese groei.

Dit sluit praktiese voorstelle in oor SEB, werknemeraandeleskemas, buitelandse belegging en ʼn meer realistiese benadering tot indiensnemingsgelykheid.

“Die fokus moet van ras na werklike bemagtiging verskuif. Suid-Afrikaners benodig nie nóg rasseklassifikasie nie – hulle benodig werk, ekonomiese groei, veiligheid, funksionerende infrastruktuur en geleenthede. Ons moet begin fokus op die telbord eerder as op die spanfoto,” sê Mulder.

Solidariteit beplan ook om hierdie padkaart na rasvryheid wyd onder sakelui en belangegroepe in sowel Suid-Afrika as die buiteland se aandag te bring.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel