Foto Krediet: OkayDeer
Gekopieër
Skole het maatskaplike werkers nou meer as ooit nodig
Deur Kyla-Ann du Toit
Die krisis in Suid-Afrika se skole is lankal nie meer net ʼn onderwysprobleem nie. Dit is ook ʼn maatskaplike krisis. Geweld, trauma, armoede, honger, oorvol klaskamers, infrastruktuurprobleme en uitgebrande onderwysers skep ʼn omgewing waar leerders dikwels sonder die nodige ondersteuning moet funksioneer.
Volgens dr. Marelize Vergottini, senior lektor in Maatskaplike Werk aan die Noordwes-Universiteit (NWU), wys onlangse verslae dat leerders en onderwysers toenemend deur sistemiese verval in die steek gelaat word. Sy beklemtoon dat hierdie werklikhede die dringende behoefte aan skoolmaatskaplike werk as ʼn erkende spesialisveld versterk.
Vir Vergottini is dié saak nie net akademies van aard nie. Haar betrokkenheid by skoolmaatskaplike werk strek oor meer as ʼn dekade, en haar loopbaan het juis begin vorm aanneem toe sy tydens haar eerste aanstelling as skoolmaatskaplike werker in 2011 besef het hoe groot die leemtes in die veld is. Volgens haar is daar steeds onsekerheid oor die rolle, verantwoordelikhede en strukture waarbinne skoolmaatskaplike werkers in Suid-Afrika moet funksioneer.
ʼn Onlangse artikel beklemtoon dat skole tans onder verskeie drukpunte steier. Die Nasionale Skoolvoedingsprogram het ontwrigtings in verskeie provinsies ervaar, terwyl honger vir baie kinders ʼn daaglikse werklikheid is. Terselfdertyd plaas onderwysertekorte en oorvol klaskamers geweldige druk op leeromstandighede en onderwysers se welstand.
Vergottini waarsku dat skole, wat veilige ruimtes vir kinders behoort te wees, toenemend plekke word waar geweld en trauma sigbaar is. Volgens haar word leerders “weerloos gelaat” in ruimtes wat hulle behoort te beskerm en te koester.
Juis daarom is skoolmaatskaplike werkers se rol onmisbaar. Hulle werk nie net met individuele leerders nie, maar ook met ouers, onderwysers en die breër gemeenskap. Volgens Vergottini fokus skoolmaatskaplike werk op die kind as hoofstelsel, terwyl ouers en onderwysers as belangrike ondersteuningstelsels beskou word. Hierdie werk sluit ook die hantering van leerhindernisse, armoede, geweld, gesinsprobleme en ander gemeenskapsuitdagings in.
Volgens haar navorsing is een van die grootste probleme dat skoolmaatskaplike werkers dikwels sonder voldoende professionele toesig, basiese hulpbronne of duidelike strukture moet werk. In sommige skole ontbreek selfs praktiese hulpmiddels soos ʼn privaat kantoor, veilige lêerspasie of voldoende tegnologie.
Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk het reeds in Maart vanjaar ʼn skrywe aan die minister van maatskaplike ontwikkeling gerig waarin die dringende behoefte aan skoolmaatskaplike werkers beklemtoon is en die departement versoek is om daadwerklik op te tree. Die minister het egter tot dusver versuim om daarop te reageer. ʼn Opvolgskrywe word binnekort aan die departement gestuur, terwyl Solidariteit ook reeds alternatiewe roetes ondersoek om die departement tot optrede te dwing.
Tog glo Vergottini dat die beroep ʼn enorme verskil kan maak. “Die verskil wat ʼn maatskaplike werker in ʼn kind se lewe maak, gaan oor menslike verbintenis,” sê sy. “Dit is daardie een veilige persoon met wie ʼn kind kan praat, wat dikwels die begin van hoop en herstel is.”
“Die gekombineerde impak van hierdie druk – honger, geweld, trauma, onderwysertekorte, oorvol klaskamers en swak infrastruktuur – weerspieël ʼn stelsel in krisis. Sonder toegewyde psigososiale ondersteuning sal hierdie toestande voortgaan om leer te belemmer, ongelykheid te versterk en kinders se toekoms in gevaar te stel.”
Sy beklemtoon dat skoolmaatskaplike werkers ʼn noodsaaklikheid is en dat elke skool ʼn maatskaplike werker as deel van sy personeel behoort te hê.
“Skoolmaatskaplike werkers is uniek toegerus om hierdie deurdringende uitdagings aan te spreek. Die behoefte is dringend, die bewyse is oorweldigend en die gevolge van die gebrek aan optrede word gedra deur die land se kwesbaarste bevolking,” sê Vergottini.
“Ons kinders is ons goud. Gegewe die sosio-ekonomiese toestande en ander uitdagings wat ons gemeenskappe in die gesig staar, kan geen skool doeltreffend sonder ʼn maatskaplike werker funksioneer nie.”
Lees hier meer oor dr. Marelize Vergottini en die werk wat sy doen.