Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
VN gevra om teen SA op te tree oor verbreking van Solidariteit-ooreenkoms
Solidariteit het vandag ’n formele klagte teen die Suid-Afrikaanse regering by die Verenigde Nasies se Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) in Genève, Switserland, ingedien. Dit is omdat die regering ’n ooreenkoms met Solidariteit oor rassewette verbreek het.
Hierdie ooreenkoms, wat onder toesig van die IAO bereik is, het onder meer bepaal dat rassewette tydelik moet wees, dat niemand op grond van ras afgedank mag word nie, dat ras nie die enigste kriterium vir ʼn pos mag wees nie en dat vaardighede in ag geneem moet word.
Die ooreenkoms het ook bepaal dat die bepalings deur regulasies in die Staatskoerant gepubliseer moet word. Dit is ’n bevel van die hof gemaak, maar die regering het dit nie as regulasies gepubliseer nie en het die hofbevel dus geminag.
Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, minag die regering nie net ’n internasionale liggaam se proses nie, maar ook die plaaslike howe.
“Ons moet dus die regering by die internasionale forum waar die ooreenkoms bereik is, aankla, asook in plaaslike howe. Ons gaan die regering verantwoordbaar hou vir die ooreenkoms wat met Solidariteit bereik is,” het dr. Hermann gesê.
Die ooreenkoms het gevolg nadat Solidariteit in Oktober 2021 ’n klagte teen die Suid-Afrikaanse regering by die IAO ingedien het. Die Suid-Afrikaanse regering en Solidariteit het ingestem tot mediasie onder toesig van die IAO.
Die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) in Suid-Afrika het die proses van Oktober 2022 tot Junie 2023 bemiddel.
Op 28 Junie 2023 is die ooreenkoms deur die betrokke partye onderteken. Die regering het egter nie die ooreenkoms geïmplementeer soos ooreengekom nie.
In die klag by die IAO wys Solidariteit daarop dat internasionale konvensies, en spesifiek die IAO, bepaal dat rassewette tydelik van aard moet wees. Solidariteit vra ook dat ’n duidelike einddatum gestel word.
Die klagte fokus verder daarop dat die sosio-ekonomiese posisie van mense in ag geneem moet word wanneer mense gehelp word, en nie ras nie.
Sien die klagte hier aangeheg.
Benewens die klagte by die IAO is Solidariteit ook besig met ’n hofaksie in Suid-Afrika oor die minagting van ’n hofbevel.
Volgens dr. Hermann is hierdie klag een aksie in ’n omvattende veldtog om Suid-Afrika van rassewette te bevry.
“Dit is sleg vir die ekonomie en sleg vir werk. Net ’n klein groepie elite word bevoordeel deur Suid-Afrika se rasbedeling,” aldus dr. Hermann.
Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het gister ook ʼn verslag getiteld, “Rasvry teen 2030” uitgereik waarin ʼn padkaart uiteengesit word wat Suid-Afrika kan volg om van die huidige rasbedeling bevry te word.
sien die verslag hier aangeheg.