loading
avatar
Artikels
10 uur gelede
solidariteit-maatskaplikewerkersnetwerk-verwelkom-die-verwydering-van-sisisi-tolashe

Foto Krediet: ChatGPT

Solidariteit se Maatskaplikewerkersnetwerk verwelkom die verwydering van Sisisi Tolashe

Deur Kyla-Ann du Toit

Sisisi Tolashe se verwydering as minister van maatskaplike ontwikkeling plaas opnuut die kollig op die belangrikheid van etiese en verantwoordbare leierskap in ʼn sektor wat reeds onder groot druk verkeer.

Tolashe is Donderdag ingevolge artikel 91(2) van die Grondwet uit haar pos verwyder. Die presidensie het bevestig dat Sindisiwe Chikunga, minister in die presidensie vir vroue, jeug en persone met gestremdhede, intussen as waarnemende minister van maatskaplike ontwikkeling aangestel is totdat ʼn permanente aanstelling gemaak word.   

Tolashe se verwydering volg ná maande van omstredenheid rondom ernstige bewerings teen haar, waaronder magsmisbruik, onetiese aanstellings en die beweerde misbruik van belastingbetalers se geld.

Volgens Bianca Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, verwelkom Solidariteit hierdie besluit.

“Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk verwelkom die verwydering van Sisisi Tolashe as minister van maatskaplike ontwikkeling. Maatskaplike werkers, nieregeringsorganisasies (NRO’s) en gemeenskapsorganisasies word daagliks aan streng etiese standaarde gehou. Hulle moet verantwoordbaar met beperkte fondse omgaan, kwesbare mense beskerm en altyd die beste belang van gemeenskappe op die hart dra,” sê Smit.

Volgens Smit kan daar nie een stel reëls vir die maatskaplike sektor geld en ʼn ander stel reëls vir politieke leierskap nie.

“Etiese leierskap aan die bopunt is noodsaaklik om vertroue op grondvlak te herstel,” sê sy.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling speel ʼn kernrol in die beskerming van kwesbare mense, die ondersteuning van gesinne, die bestuur van maatskaplike dienste en die samewerking met niewinsgewende organisasies wat dikwels die staat se tekortkominge op grondvlak moet help dra.

“Wanneer daar ernstige bewerings van magsmisbruik, nepotisme, onetiese aanstellings en die misbruik van belastingbetalers se geld teen ʼn minister ontstaan, raak dit die geloofwaardigheid van die hele sektor,” sê Smit.

Volgens haar sou dit kommerwekkend gewees het indien daar nie opgetree is nie.

“Daar ontstaan baie vrae indien hierdie soort stappe nie geneem word nie. Tolashe was die afgelope paar maande gereeld in die nuus, maar ongelukkig oor alles behalwe die werk waarvoor sy aangestel is,” sê Smit.

Die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk meen die fokus moet nou dringend terugkeer na die werklike krisisse in die maatskaplike sektor: oorlaaide maatskaplike werkers, gemeenskappe onder druk, NPO’s wat met beperkte hulpbronne moet klaarkom en kwesbare mense wat afhanklik is van betroubare en doeltreffende dienslewering.

Volgens Smit verdien die mense wat daagliks aan die voorpunt van maatskaplike nood staan leierskap wat verantwoordbaar, bekwaam en eties is.

“Dié sektor kan nie bekostig dat politieke omstredenheid belangriker word as die mense wat beskerm én ondersteun moet word nie.”

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel