Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Kry raad by kundiges vóór jy tweepotstelsel gebruik
Solidariteit waarsku dat werkers nie oorhaastig hul aftreespaargeld moet onttrek ingevolge die relatief nuwe tweepot-stelsel nie. Lede word aangemoedig om eers behoorlike finansiële advies in te win voordat hulle besluite neem wat hul langtermynspaargeld kan beïnvloed.
Hierdie waarskuwing volg op mediaberigte wat aandui dat miljoene Suid-Afrikaners reeds aansoek gedoen het om geld uit hul aftreefondse te onttrek sedert die stelsel in werking getree het. Beskikbare data toon ook dat ʼn beduidende persentasie van mense wat reeds fondse onttrek het, later terugkeer om nóg te onttrek, wat kommer wek oor die langtermyngevolge vir finansiële sekuriteit.
Volgens Marius Croucamp, Solidariteit se adjunkhoofsekretaris vir strategie, is dit verstaanbaar dat baie mense onder groot finansiële druk verkeer, maar juis daarom is dit noodsaaklik om nie korttermynverligting te kies ten koste van langtermyn- finansiële sekerheid nie.
“Ons het groot simpatie met werkers wat onder toenemende finansiële druk verkeer. Stygende inflasie, hoër brandstofpryse en die algemene lewenskoste plaas gesinne in ʼn moeilike posisie. Mense moet egter onthou dat hul aftreespaargeld nie gewone spaargeld is nie – dit is bedoel om hul waardigheid en onafhanklikheid op hul oudag te beskerm,” sê Croucamp.
Korttermynverligting kan langtermynskade veroorsaak
Die tweepot-stelsel maak dit moontlik vir aftreefondslede om ʼn gedeelte van hul aftreefondse vóór aftrede te onttrek. Hoewel dit as ʼn noodmaatreël bedoel is, toon aanvanklike statistieke dat baie mense dié opsie gebruik vir onmiddellike finansiële verligting en dan terugkeer vir verdere onttrekkings.
Volgens Croucamp is hierdie patroon kommerwekkend.
“Die syfers wys dat sodra iemand begin om geld uit hul aftreespaargeld te onttrek, dit maklik ʼn gewoonte kan word. Dit skep ʼn gevaarlike situasie waarin mense hul toekomstige finansiële sekuriteit geleidelik opoffer om huidige druk te verlig.”
Hy waarsku dat die verlies van saamgestelde groei oor jare ʼn beduidende impak kan hê.
“Elke rand wat nou onttrek word, is nie net daardie rand wat verlore gaan nie, maar ook die rente en groei wat dit oor die volgende tien of twintig jaar sou kon verdien.
Ekonomiese druk gaan die versoeking laat toeneem
Solidariteit meen die huidige ekonomiese klimaat verhoog die risiko dat meer mense van die tweepot-stelsel gebruik sal maak.
Stygende brandstofpryse, hoër inflasie en voortdurende druk op huishoudelike begrotings kan daartoe lei dat mense hul aftreespaargeld toenemend as ʼn korttermynoplossing beskou, aldus Croucamp.
“Ons verstaan waarom mense in die versoeking kom om hul spaargeld te gebruik. Wanneer kos, vervoer en skooluitgawes duurder word, kan dit voel asof daar geen alternatief is nie. Maar dit is juis in moeilike tye dat ʼn mens versigtig moet wees om nie besluite te neem wat later groot skade kan veroorsaak nie.”
Kry eers kundige raad
Solidariteit doen daarom ʼn sterk beroep op lede om nie sonder behoorlike finansiële advies op te tree nie
“Ons raad is eenvoudig: Moenie geld uit jou aftreefonds onttrek voordat jy ʼn gekwalifiseerde finansiële adviseur geraadpleeg het nie. Baie mense besef nie die langtermyn-implikasies van so ʼn besluit ten volle nie,” sê Croucamp.
Hy voeg by dat finansiële dissipline ʼn belangrike aspek van persoonlike vryheid en selfstandigheid is.
“Werkers se aftreespaargeld is een van die belangrikste boustene van finansiële onafhanklikheid. As dit te maklik gebruik word, kan ons oor ʼn paar dekades ʼn nuwe krisis in die gesig staar, waar mense sonder voldoende voorsiening vir hul oudag sit.”
Solidariteit sê hy sal voortgaan om lede in verskeie bedrywe te waarsku oor die risiko’s van oorhaastige onttrekkings en om hulle aan te moedig om ingeligte, verantwoordelike finansiële besluite te neem.