loading
avatar
Artikels
18 uur gelede
bek-en-klouseer-ook-n-krisis-vir-veeartse-en-landbougesondheid

Foto Krediet: ChatGPT

Bek-en-klouseer ook ʼn krisis vir veeartse en landbougesondheid

Verwikkelings rondom die vertragings met entstowwe teen bek-en-klouseer, en die gepaardgaande debat oor wie toegelaat mag word om diere te ent, is nie net ʼn landbou- of beleidskwessie nie.

Hierdie kwessie strek veel wyer, meen Solidariteit se mediese beroepsnetwerke, wat onder meer dokters, veeartse en ander gesondheidswerkers insluit.

Dit word al duideliker hoe die huidige situasie, soos dit in die media uitgebeeld word, dui op diepgaande strukturele probleme in Suid-Afrika se vermoë om dieregesondheid, voedselsekerheid en uiteindelik openbare gesondheid te beskerm.

Peirru Marx, netwerkkoördineerder van die mediese sektor by Solidariteit, sê veeartse in Suid-Afrika werk reeds oor jare heen onder geweldige en toenemende druk.

“In baie dele van die land is daar ʼn ernstige tekort aan staatsveeartse, terwyl privaat praktisyns dikwels nie betyds betrek word wanneer daar ʼn uitbreking van dieresiekte is nie.

“Die huidige krisis rondom bek-en-klouseer bevestig wat baie veeartse eintlik al lankal waarsku: wanneer die staat nie oor voldoende kapasiteit beskik nie, maar terselfdertyd beheer wil sentraliseer, ontstaan vertragings wat groot ekonomiese en gesondheidsrisiko’s inhou,” sê Marx.

Standpunte, soos dié van landbouleiers Theo de Jager en sy kollegas by SAAI, beklemtoon dat praktiese oplossings dringend nodig is om entstowwe vinniger by boere te kry.

Marx sê dit stem ook sterk ooreen met die ervaring van veeartse op voetsoolvlak.

“Wanneer ʼn uitbreking plaasvind, tel elke dag. Tog hoor ons van administratiewe prosesse, permitte en onduidelike regulasies wat skynbaar belangriker geag word as die vinnige beheer van ʼn aansteeklike siekte wat hele kuddes en uitvoermarkte kan bedreig,” sê hy.

Daar is oor die afgelope weke baie oor die staat se hantering van die bek-en-klouseersituasie gesê, en hierdie kritiek strook volgens Marx met dit wat baie professionele persone in die veld beleef.

Hy sê die vraag is nou nie net of entstowwe beskikbaar is nie, maar of die stelsel wat die verspreiding en toediening daarvan beheer, funksioneel en realisties is.

“Indien slegs ʼn beperkte aantal staatsbeamptes gemagtig is om entstowwe toe te dien, terwyl privaat veeartse gereed en bevoeg is om te help, gaan waardevolle tyd verlore.

“Vir veeartse is dit veral frustrerend dat hul kundigheid nie altyd optimaal benut word nie. Suid-Afrika beskik oor hoogs opgeleide privaat veeartse wat daagliks met boere werk en die praktiese realiteite van siektebeheer verstaan. Hulle wíl boonop help.

“Wanneer regulasies egter verhoed dat hierdie kundigheid vinnig ingespan kan word, raak die hele landbou- en voedselketting kwesbaar,” verduidelik Marx.

Solidariteit se mediese beroepsnetwerke glo dat die huidige situasie ʼn herbesinning oor die rolverdeling tussen die staat en privaat sektor noodsaak.

In ʼn land met beperkte hulpbronne kan die oplossing nie wees om alles te sentraliseer nie. Samewerking met privaat veeartse, duidelike protokolle en minder burokratiese hindernisse is noodsaaklik om uitbrekings van dieresiektes doeltreffend te beheer.

Dieregesondheid kan ook nie los van openbare gesondheid gesien word nie. Siekte-uitbrekings in die landbou raak voedselpryse, uitvoere, werkgeleenthede en uiteindelik die welstand van gewone Suid-Afrikaners.

Wanneer die stelsel wat entstowwe moet goedkeur, invoer en versprei nie betyds funksioneer nie, strek die gevolge veel verder as net die plaashek.

Marx sê die terugvoer van veeartse is altyd hoe Suid-Afrika geen tekort aan kundigheid het nie, maar eerder ʼn tekort aan funksionele bestuur en praktiese besluitneming ervaar.

“Indien die land sy landbou- en gesondheidstelsels wil beskerm, moet beleid meer gerig wees op samewerking, spoed en die gesonde oordeel van professionele mense, en minder op onnodige administratiewe beheer en magsentralisering.

“Die bek-en-klouseerkrisis behoort daarom as ʼn waarskuwing te dien,” sê hy.

Sonder ʼn stelsel wat veeartse in staat stel om vinnig en doeltreffend op te tree, bly Suid-Afrika kwesbaar – nie net vir dieresiektes nie, maar vir die ekonomiese en gesondheidsgevolge wat keer op keer daarmee gepaardgaan.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel