Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
15 uur gelede
solidariteit-waarsku-werkgewers-oor-ondeurdagte-reaksie-op-brandstofpryse

Foto Krediet: Pexels

Solidariteit waarsku werkgewers oor ondeurdagte reaksie op brandstofpryse

Solidariteit doen ’n beroep op werkgewers om nie die skielike en dramatiese styging in brandstofpryse as rede te gebruik vir onnodige afleggings of ander drastiese maatreëls wat werknemers se werksekerheid kan bedreig nie.

Die vakbond erken dat die verwagte brandstofverhoging op 1 April, saam met die reeds skerp stygings in dieselpryse wat by sekere vulstasies van krag is, groot druk op ondernemings plaas, maar waarsku dat oorhaastige besluite die situasie kan vererger.

Gevolglik waarsku Solidariteit werkgewers om nie hierdie tydelike ekonomiese ontwrigting in permanente ontwrigting vir werknemers en verbruikers te omskep nie.

Solidariteit sê hy neem kennis van toenemende vrese onder werknemers oor wat die jongste brandstofskok vir hul werk, inkomste en finansiële sekerheid kan beteken, en sal nie huiwer om lede by te staan waar werkgewers die situasie gebruik as grond vir onbillike afleggings of eensydige veranderings aan diensvoorwaardes nie.

“Ons verstaan dat die skerp styging in brandstof- en vervoerkoste ’n werklike en onvermydelike werklikheid is wat wêreldwyd druk op ondernemings plaas.

“Tog moet hierdie situasie met wysheid hanteer word. Werksekerheid kan nie elke keer die eerste slagoffer wees wanneer koste onverwags styg nie,” sê Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit.

Volgens Solidariteit behoort werkgewers eers alle redelike alternatiewe te oorweeg voordat personeelvermindering ter sprake kom, veral aangesien die huidige brandstofprysdruk grootliks deur internasionale faktore veroorsaak word en boonop tydelik van aard is.

Die vakbond stel die volgende billike maatreëls voor wat werkgewers kan oorweeg om werknemers tegemoet te kom:

  • • Vermy oorhaastige afleggings en ondersoek alternatiewe oplossings soos om onnodige werkplek-luukshede en geriefliksheidsuitgawes te verminder (personeelvermindering behoort altyd slegs as laaste uitweg oorweeg te word, veral waar die huidige finansiële druk moontlik tydelik is).
  • • Hersien reis- en vervoertoelae waar moontlik
  • • Waar werknemers self vir pendel- of brandstofkoste oor langer afstande moet instaan, kan hersiening van toelaes help om die skielike druk te verlig.
  • • Gebruik buigsame werkreëlings waar moontlik.
  • • Gun werknemers die geleentheid om met voorstelle oor kostebesparing vorendag te kom.
  • • Kommunikeer openlik met werknemers oor finansiële druk.
  • • Deursigtige kommunikasie help om onsekerheid, gerugte en onnodige paniek in die werkplek te voorkom.
  • • Benader die huidige brandstofkrisis as ’n buitengewone en ʼn tydelike situasie.
  • • Besluite wat werknemers se werksekerheid raak, moet met omsigtigheid geneem word, veral waar internasionale faktore ’n groot rol speel.
  • • Werp alles in die stryd om te keer dat ʼn tydelike ekonomiese krisis tot langtermyn- maatskaplike gevolge lei.

“Werknemers sien reeds hoe dieselpryse by sommige vulstasies skerp styg, en die verwagte verhoging op 1 April verhoog die onsekerheid verder.

“Dit is juis in sulke tye dat werkgewers en werknemers mekaar nodig het, en nie teenoor mekaar moet staan nie,” sê Du Plessis.

Solidariteit moedig lede aan om die vakbond onmiddellik te kontak indien hulle ervaar dat die brandstofprysstygings as rede gebruik word vir onbillike afleggings, eensydige veranderinge aan diensvoorwaardes of enige ander optrede wat hul werksekerheid bedreig, sodat die saak betyds hanteer kan word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel