Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Die wrede gevolge van vals rasseklagtes
Pieter Jordaan
Die nuus dat Gautengse premier, Panyaza Lesufi, vir ʼn driekwartmiljoen rand gedagvaar word oor sy optrede ná beweerde rassisme by ’n skool in Randfontein, is nie net nog ’n hofsaak nie.
Dit behoort ons almal te laat stilstaan.
Dit is deel van ’n patroon wat al hoe meer sigbaar word in Suid-Afrika – die roekelose gebruik van rassistiese aantygings, dikwels sonder feite, en met verwoestende gevolge vir gewone mense.
Dit het byna ’n algemene verskynsel geword. Tik maar die name Elana Barkhuizen of Anneke Smit, Anell Engelbrecht of Annemarie Oosthuizen in… Of dié van die voormalige onderhoofseun van Hoërskool Jan Viljoen, Rocco Oosthuizen.
In sy geval het ‘n rasse-onderonsie op die skoolterrein ontstaan wat hy probeer ontlont het, voor hyself ‘n teiken geword het en van die skool moes vlug. Daarna is hy op sosiale media van rassisme beskuldig, en kort daarna het Lesufi vermakerig aan ‘n oproerige skare buite die skool gesê die Menseregtekommissie sal Rocco ondersoek.
Dit het die druk laat oplaai en hy moes selfs van skool verander omdat ‘n magtige politikus gesinspeel het daarop dat hy, Rocco, ‘n rassis is.
Dis hý wat vir boelie Lesufi nou die stryd aansê.
Goed so!
Beskuldigings van rassisme duik oor jare heen gereeld op in die media – gereeld sonder om eers krities ondersoek te word en veral waar ‘n wit ‘oortreder’ betrokke is. Dikwels word die beskuldigings gemaak deur mense in magsposisies en dikwels is die ontvanger iemand wat juis nie in ʼn magsposisie staan nie.
Net so dikwels berus dit op twyfelagtige feite, halfwaarhede of bloot gerugte.
Daar is drie dinge wat telkens in hierdie gevalle gebeur.
Die eerste is dat die beskuldiging baie vinnig en ondeurdag gemaak word.
Nog voordat ’n behoorlike ondersoek afgehandel is, word iemand reeds as rassis uitgebeeld. Politici, aktiviste of amptenare neem standpunt in, en die saak word in die openbaar beslis voordat die feite behoorlik vasgestel is.
Die tweede is dat diegene wat die vals beskuldigings maak selde daarvoor aanspreeklik gehou word.
Ons het dit al meer as een keer by spesifiek Lesufi gesien. Dis nou dieselfde Lesufi wat al herhaaldelik gesê het hy haat rassisme met ’n passie en is verslaaf aan nie-rassigheid. Tog lyk dit soms of die teenoorgestelde gebeur — dat rassisme as politieke wapen gebruik word, sonder om die gevolge vir die beskuldigdes in ag te neem.
Die derde, en belangrikste, is die skade wat volg.
Wanneer iemand eers as rassis gebrandmerk is, bly die merk vir lank sit. Selfs al word die aantygings later bevraagteken of weerlê, is die persoon se reputasie beskadig. Skole wil nie meer betrokke wees nie. Werkgewers hou terug. Sosiale media vergeet nie.
Die Oosthuizen-gesin van Randfontein weet presies hoe dit voel.
’n Voorval by ’n skool het binne dae verander in ’n nasionale debat oor rassisme. ’n Leerder wat ’n geveg probeer stopsit het, is as ʼn rassis uitgebeeld. Sy naam het op protesplakkate verskyn. Sy familie moes skuil. Sy ma moes van die werk af wegbly. Die gesin moes uiteindelik verhuis.
Selfs nadat ondersoeke geen duidelike bewys van rassisme kon lewer nie, het die skade gebly.
Maar diegene wat die beskuldigings aangeblaas het, het geen werklike gevolge gedra nie.
Dit is juis hiér waar die grootste gevaar lê.
Wanneer aantygings van rassisme roekeloos gebruik word, verloor die woord sy betekenis. Dan begin mense twyfel, selfs wanneer daar werklik rassisme is. Dan raak die samelewing meer verdeeld; nie minder nie.
In ’n land soos Suid-Afrika, met sy geskiedenis en sensitiwiteit oor ras, dra so ’n beskuldiging enorme gewig. Daarom behoort dit met uiterste versigtigheid hanteer te word.
Nie elke konflik is rassisme nie. Nie elke voorval is diskriminasie nie. En nie elke beskuldigde is skuldig nie.
Die hofsaak teen Lesufi gaan dus oor meer as een voorval.
Dit gaan oor die beginsel dat niemand die reg het om mense in die openbaar as rassiste uit te beeld sonder dat die feite behoorlik getoets is nie. Dit gaan oor die vraag of magsposisies gebruik mag word om iemand se reputasie te vernietig, sonder enige gevolge.
As Suid-Afrika werklik ’n nie-rassige samelewing wil wees, moet die standaard vir beskuldigings hoër wees, nie laer nie.
Want elke keer wanneer ’n vals rasseklagte gemaak word, word nie net een persoon se lewe ontwrig nie.
Dan word die vertroue tussen mense verder afgebreek.
En sonder daardie vertroue kan geen samelewing gesond bly nie.