Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Vyf sterf in Ekapa-myntragedie; Solidariteit eis deeglike ondersoek
Deur Robin-Lee Maré
Solidariteit betuig sy diepste meegevoel aan die families van vyf mynwerkers wat hul lewens verloor het ná ʼn modderstorting by die Ekapa-myn op 17 Februarie vanjaar.
Die liggame van al vyf slagoffers is intussen herwin, terwyl die tragedie steeds skokgolwe deur die mynbousektor stuur. Die voorval het ook gelei tot verhoogde spanning in die bedryf, met die Nasionale Metaalwerkersunie van Suid-Afrika (Numsa) wat intussen die inhegtenisneming van die myn se uitvoerende hoof eis. Terselfdertyd poog Numsa om die likwidasie van die myn deur die hof te stuit.
Volgens Johan Böning, hoof van Solidariteit se Beroepsgesondheid- en veiligheidsafdeling (BGV), is dit van kardinale belang dat die ondersoekproses deur die Departement van Minerale en Petroleumhulpbronne (DMPR) eers sy volle gang gaan voordat daar oorhaastige gevolgtrekkings gemaak word.
“Al vyf liggame is nou gevind, en ons betoon ons innige simpatie aan die oorledenes se families. Dit is egter belangrik dat ons die departement se proses respekteer sodat die direkte, indirekte en grondoorsake van hierdie tragedie vasgestel kan word,” sê Böning.
Die myn het reeds aansoek gedoen vir likwidasie, en hoewel die bevel tans tydelik is, is likwidateurs reeds aangestel. Die volgende hofdatum vir ʼn finale bevel word na verwagting teen 17 April aangehoor.
Ondersoek na moontlike nalatigheid en strafregtelike aanspreeklikheid
Die DMPR sal ʼn deeglike ondersoek instel ingevolge artikel 60 van die toepaslike wetgewing, wat moontlik opgegradeer kan word na ʼn artikel 65-verhoorondersoek. Hierdie soort ondersoek behels uitgebreide getuienis en kruisondervraging, met die doel om die grondliggende oorsake van die voorval vas te stel.
“Die doel van die ondersoek is om vas te stel wat aanleiding gegee het tot die modderstorting, of daar enige nalatigheid van die myn se kant af was, en in watter mate vervolging moontlik is. In sekere gevalle kan daar selfs sprake van strafbare manslag wees,” verduidelik Böning.
Hy voeg by dat sodanige ondersoeke tegnies kompleks is en maande kan duur, aangesien verskeie rolspelers, insluitend vakbonde, die geleentheid kry om getuies te kruisondervra en eie getuienis aan te bied.
Likwidasieproses reeds in ʼn gevorderde stadium
Met betrekking tot pogings om die likwidasie van die myn te stuit, meen Böning dat dit ʼn uitdagende proses sal wees.
“Daar is reeds ʼn aansoek gebring en likwidateurs is aangestel. Alhoewel daar politieke druk is om die proses te beïnvloed, is dit onseker of enige poging om dit te stop suksesvol sal wees,” sê hy.
Ondersteuning vir werkers en families
Die likwidasie van die myn het verreikende gevolge vir werknemers wat hul werk verloor, sowel as vir die families van die oorledenes. Solidariteit het bevestig dat hulle reeds met die mynbestuur en die parlementêre portefeuljekomitee vergader het om ondersteuning vir geraakte Solidariteit-lede te verseker.
Daar is onder meer ooreengekom dat ʼn kantoor op die myn ingerig sal word om werknemers te help met administratiewe prosesse, soos dokumentasie vir werkloosheidsversekering, asook briewe aan die banke vir lede met uitstaande skuld of relevante polisse.
Verder bied Solidariteit ook ondersteuning deur sy werksoekplatform om geraakte lede te help om nuwe werkgeleenthede te vind. Werknemers kan die platform besoek by www.solidariteit.co.za.
“Ons moedig alle geraakte lede aan om met ons in verbinding te tree. Hulle is ook geregtig op verteenwoordiging tydens die ondersoekproses deur die DMPR-inspektoraat, en Solidariteit sal hulle deurentyd bystaan,” sê Böning.
Geraakte lede kan Solidariteit kontak by diens@solidariteit.co.za of telefonies by 012 644 4400.