Foto Krediet: Pexels
Gekopieër
Solidariteit loods veldtog teen nuwe somatologie-regulasies wat duisende se werk bedreig
Oorregulasie van die Departement van Gesondheid dreig om die somatologiebedryf in Suid-Afrika te laat skeur en dit groot skade te berokken.
Solidariteit loods ’n omvattende veldtog om die voorgestelde regulasies van die departement teen te staan. Die regulasies beoog om somatologie onder die Raad vir Verwante Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (“Allied Health Professions Council of South Africa” – AHPCSA) te laat ressorteer – ’n stap wat die skoonheidsbedryf landswyd in ʼn kwesbare posisie sal plaas.
Die voorgenome regulasies sal die meeste skoonheidsalonne, spa’s, opleidingsinstellings en onafhanklike somatoloë in Suid-Afrika raak, en volgens Solidariteit hou dit ernstige arbeids- en ekonomiese gevolge in.
Indien die regulasies deurgevoer word, sal dit onder meer die volgende tot gevolg hê:
- • duur lisensies en verpligte registrasie om as ’n gesondheidsfasiliteit gereken te word;
- • verbod of streng beperking op mikronaaldbehandelings, chemiese afskilferings, laserbehandelings en permanente grimering;
- • die kunsmatige skeiding van dienste, naamlik dat skoonheidsterapeute en somatoloë nie meer al hul vaardighede binne een onderneming sal mag aanbied nie – selfs al is hulle daarvoor opgelei; en
- • die moontlike sluiting van talle ondernemings, met gevolglike grootskaalse werksverliese.
Volgens Johan Roos, netwerkkoördineerder van Solidariteit se Kommunikasienetwerk, is hierdie ontwikkeling uiters gevaarlik vir die bedryf.
“Dit is drakoniese riglyne wat beplan word. In ander lande, asook Suid-Afrika, het soortgelyke oorregulering tot gevolg gehad dat eens groot bedrywe tot klein, bykans onlewensvatbare sektore gekrimp het. Nou dreig dieselfde hier.”
Roos verduidelik dat die regulasies die beroep onnodig sal versplinter.
“Spa’s en skoonheidsondernemings sal nie meer sagte skoonheidsdienste én gespesialiseerde somatologiebehandelings onder een dak kan aanbied nie. ’n Somatoloog wat opgelei is om gewone gesigsbehandelings te doen, sal dit nie meer mag doen nie – en dieselfde geld andersom. Dit maak hierdie beroepe kunsmatig skaars en versmoor die sektor.”
Solidariteit versamel tans grootskaalse insette van werkgewers en werknemers in die skoonheidsbedryf. Hierdie kommentaar – sowel as Solidariteit se eie formele beswaar – sal op 22 November aan die ministers van gesondheid, indiensneming en arbeid, asook handel en nywerheid oorhandig word.
Roos beklemtoon die erns van die aangeleentheid.
“Hierdie kwessie is nie bloot ’n gesondheidskwessie nie; dit is ook ’n arbeids- en ekonomiese kwessie. Suid-Afrika kan dit eenvoudig nie bekostig om poste, vaardighede en sakegeleenthede in hierdie sektor te verloor nie.”
Hy herinner belanghebbendes daaraan dat Solidariteit nie teen regulering as sodanig gekant is nie, maar teen onverantwoordelike regulering en regulering sonder noodsaaklike raadpleging.
“Solidariteit wil werk beskerm. In hierdie geval kan oorregulering die bestaan van klein ondernemings en die voortuitsigte van werkers bedreig. Ons doen dus ’n dringende beroep op skoonheidspesialiste om hierdie platform te gebruik om die regering reguit te vertel hoe hulle hieroor voel.”
Solidariteit versoek alle somatoloë, skoonheidsterapeute, opleidingsinstellings en salon-eienaars om hul kommentaar dringend in te dien.
“Dit is noodsaaklik dat ons almal saam opstaan ter wille van die beroep, want niemand gaan dit vír ons doen nie,” sê Roos. “Ons gaan nie toelaat dat die regering hierdie bedryf doodreguleer nie.”