Foto Krediet: Solidariteit
Gekopieër
Dokumentêr word in publiek verwelkom: ‘Eens ʼn reënboognasie, maar nou ʼn rasnasie’
Deur Kyla-Ann du Toit
Ras en raswette is deesdae nie meer net op die ANC se lippe nie, maar op dié van elke Suid-Afrikaner. Terwyl die regering daarmee spog, word sy rasbehepte ideologieë nie langer vir die res van ons verberg nie, maar vir almal oopgevlek.
Met die vrystelling van Solidariteit se nuwe dokumentêr, RACE to the bottom, lê die waarheid van raswette in Suid-Afrika oop en bloot vir almal om te sien. Die dokumentêr bring die ongemaklike waarheid na vore: dat sogenaamde “transformasie” ná dertig jaar ons demokrasie versmoor eerder as bevorder.
Die dokumentêr, wat deel vorm van Solidariteit se groter G20-veldtog, neem kykers op ʼn reis deur die geskiedenis van raswette in Suid-Afrika: van die verkondigde drome en ideale van 1994 tot die hedendaagse rigiede kwotastelsels wat gewone mense se toekoms belemmer. Dit skets ʼn eerlike prentjie van hoe die “goeie bedoelings” van sogenaamde regstellende rassewetgewing mettertyd ontaard het in beleid wat gewone Suid-Afrikaners – van álle rasse – benadeel.
Renate Pieterse, ʼn voormalige SAPD-lid wat in die dokumentêr verskyn en self die gevolge van rassewetgewing ervaar het, vertel dat Suid-Afrika ʼn land van potensiaal is, maar dat ʼn rasbehepte regering ons terughou. “Ek hoop dat die hele wêreld [die dokumentêr] sal sien en dat die mense in ons land – swart, wit, bruin of Indiër – saam teen hierdie wette sal staan ter wille van ons nageslag.”
Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) en deelnemer aan die dokumentêr, is die dokumentêr nie net vir Suid-Afrikaners gemaak nie, maar vir die wêreld. “As hierdie dokumentêr daarin slaag om die binnelandse boodskap in die buiteland uit te kry, sal mense uiteindelik sien wat werklik hier aangaan,” sê hy. Mulder glo dit is hoog tyd dat die internasionale gemeenskap besef hoe die ANC se beleid in die praktyk uitspeel “ten spyte van al die edele bedoelings”.
Monica Mynhardt, ʼn joernalis verbonde aan Maroela Media en een van die deelnemers aan die dokumentêr, beskryf dit as ʼn projek wat die waarheid vertel soos dit regtig is, nie soos wat dit dikwels in die media verdraai word nie. Sy meen dat die dokumentêr die vermoë het om kykers se apatie te oorkom. “Ons raak maklik gedesensitiseer vir hierdie goed, maar hierdie dokumentêr herinner jou daaraan dat wat ons tans beleef nie normaal is nie.”
Volgens Maroela Media se uitvoerende hoof, Susan Lombaard, lê die krag van die dokumentêr in sy vermoë om iets ingewikkeld verstaanbaar te maak. “Ons lees soms geïsoleerde stories oor rassewetgewing, maar om die hele prentjie te sien – van 1994 tot nou – is kragtig. Die dokumentêr sê nie vir mense wat om te dink nie, maar gee die feite en moedig hulle aan om vrae te vra.”
Tog het die dokumentêr ook teenkanting ontlok – soos verwag. Die presidensie het Solidariteit se veldtog rakende die G20-beraad afgemaak as “die werk van ʼn klein regse minderheid”. Die openbare reaksie vertel egter ʼn ander storie: mense voel verlig dat die waarheid op die internasionale verhoog ontbloot word.
Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, meen die dokumentêr bevestig wat baie reeds weet: “Die tyd is ryp vir die einde van raswette in Suid-Afrika.” David Ansara, uitvoerende hoof van die Vryemarkstigting, voeg by dat rassewetgewing die land se potensiaal versmoor: “Race laws are not the answer. We need to deracialise the economy and allow the potential of all South Africans to truly flourish.”
RACE to the bottom bied ʼn harde blik op die waarheid van ʼn regering wat sy morele kompas verloor het. As die publiek se reaksie enige aanduiding is, is hierdie gesprek egter nog lank nie verby nie.
Kyk die dokumentêr hier en raak deel van die gesprek: