Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Hofbevel: Johannesburg-metro gee Solidariteit-banier terug. Advertensieagentskap moet geld teruggee
Die Johannesburg-metro gaan Solidariteit se 70 m lange banier kosteloos teruggee. Die banier lees: “Welcome to the most race-regulated country in the world.”
Dit volg op ʼn skikkingsooreenkoms wat ʼn bevel van die hof gemaak is. Solidariteit sê ook hulle finaliseer ʼn ooreenkoms met die advertensiemaatskappy om die geld terug te gee. Indien die maatskappy nie die geld betaal nie, gaan Solidariteit hom dagvaar.
Solidariteit het ook nóg 38 reklameborde met dieselfde boodskap in Johannesburg opgerig.
Volgens Solidariteit het hy ʼn wettige kontrak met die advertensieagentskap gehad. Die agentskap huur advertensieruimte by die metro en Solidariteit het op sy beurt by die agentskap gehuur.
“Ons het al die vereistes nagekom. Ons gaan nou ons banier terugkry en wil ons geld terughê. Ons gaan ook voortgaan met die veldtog,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit gesê.
Vir Solidariteit is daar geen twyfel dat sy banier onregmatig verwyder is weens die boodskap nie. Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, het in ʼn plasing op X gesê die “anti-transformiste” moet verslaan word, en ʼn foto van die banier is gepubliseer. Mgcini Tshwaku, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid in die Johannesburg-metro, het op Lesufi se plasing gereageer met ʼn video wat wys hoe die banier verwyder word.
“Solidariteit gaan voort met sy veldtog. Die feit is dat Suid-Afrika die mees rasgereguleerde land ter wêreld is. Die banier en 38 ander reklameborde plaas die kollig daarop en het ʼn nasionale en internasionale debat ontketen. Ten minste word daar nou oor Suid-Afrika se radikale rasbedeling gepraat,” sê Hermann.