loading
Artikels
1 maand gelede
die-stryd-teen-ngv-hoop-vir-n-hopelose-toekoms

Foto Krediet: Verskaf

Die stryd teen NGV: Hoop vir ’n hopelose toekoms

Deur Charné Mostert

Suid-Afrika staan op die rand van ʼn katastrofe. Die regering se beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) is nie ’n plan vir beter gesondheidsorg nie – dit is ʼn poging tot algehele staatsbeheer. Dit is nie net ons dokters en hospitale wat op die spel is nie, maar elke burger se reg om oor hul eie gesondheid te besluit.

’n Gees van weerstand, nie vrees nie

“Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” – 2 Timoteus 1:7

Dit is nie net ’n bemoediging nie. Dit is ’n opdrag. Ons sal nie bang wees nie. Ons sal bou, ons sal veg, en ons sal hoop bring – selfs in die aangesig van staatsdwang.

Waarom NGV nie werk nie: ’n Lugkasteel van ondergang

Die NGV is onuitvoerbaar en ongrondwetlik. Dit is ’n stelsel sonder finansiële of praktiese fondament:

  • • Onbekostigbaar: Die NGV sal minstens R660 miljard per jaar kos – sommige ramings sê selfs tot R1 300 miljard. Dit is geld wat Suid-Afrika eenvoudig nie het nie.
  • • Verkeerde prioriteite: Die regering het al R9,7 miljoen spandeer op regskoste – nie vir gesondheid nie, maar om die NGV in die hof te verdedig.
  • • Gedwonge beheer: Planne om staatsamptenare se mediesefondsbydraes oor te dra na die NGV toon hoe ver die regering bereid is om te gaan om beheer te kry – teen elke logiese en etiese norm.

Solidariteit veg terug – en ons wen!

Ten spyte van die dreiging, is daar rede vir hoop. Solidariteit het reeds beduidende oorwinnings behaal:

  • • Sukses in die hof: Dokters sal nie gedwing word oor waar hulle moet werk nie. Ons het die sertifikaat van behoefte (CON) suksesvol in die hof uitgedaag – dit is ongrondwetlik verklaar.
  • • NGV se wetlike geldigheid word betwyfel. Regsaksie teen die NGV se ondertekening deur die president is versterk deur ’n hofuitspraak: sy besluit is hersienbaar – én hy moet rekenskap gee.
  • • Saam staan ons sterker. Ons werk saam met instansies soos die Raad van Gesondheidsfinansiers (BHF) en die Suid-Afrikaanse Private Praktisynsforum (SAPPF) – en behaal sukses in die hof.

Ons het ’n beter plan

Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) het reeds ’n realistiese alternatief vir die NGV ontwikkel – een wat werk en wat reeds op die tafel is.

Hierdie is nie net ’n tegniese regstryd nie. Dit is ’n stryd vir gesonde verstand, vir menswaardigheid en vir vryheid. Dit is ’n stryd teen ’n stelsel wat mense wil dwing, stilmaak en beheer.

Waarom bly ons hoopvol?

Ons hoop, omdat:

  • • ons kinders ’n gesondheidstelsel verdien wat werk – nie een wat eers moet faal voordat iemand luister nie;
  • • ons weier om te aanvaar dat staatsbeheerde gesondheid ons enigste opsie is; en
  • • omdat ons glo dat vryheid, kundigheid en verantwoordelikheid altyd sal triomfeer oor ideologiese dwang.

As ons nie nou veg nie, verloor ons meer as net gesondheidsorg – ons verloor ons reg om self te kies. As ons nie nou veg nie, gaan daar dalk niks oor wees om môre voor te hoop nie. Daarom veg ons – vir nou, vir môre, vir die toekoms.

Ons sal nie vrees nie.
Ons sal nie swyg nie.
Ons sal nie wyk nie.

“Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.” – 2 Timoteus 1:7

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel