loading
Blogs
2 dae gelede
dit-is-eenvoudig-daarom-knor-ryk-kaders-so-oor-apartheid

Foto Krediet: Solidariteit

Dit is eenvoudig: Dáárom knor ryk kaders so oor apartheid

Stinkryk kaders móét spoke opjaag oor die terugkeer van apartheid. Só probeer hulle regverdig hoe ʼn bedrieglike stelsel, wat hul rykdom ten koste van almal anders in die land moontlik maak, staande kan bly.

Die ANC se terugslag by die stembus verklap ten minste hierdie werklikheid, en al hoe meer mense begin dit raaksien. Dit wys hoe die beskerming van ʼn korrupte patronaatskapsnetwerk hoegenaamd eintlik niks met enige morele besware oor rasse-onderdrukking van dekades gelede uit te waai het nie.

Die oogklappe kom af al duur die leuens voort.

Onlangs was dit weer adjunkpresident Paul Mashatile se beurt om te knor. Die media het hom soos volg aangehaal: Enigiemand wat sê ons moet dit (swart ekonomiese bemagtigingsbeleid) skrap; dit beteken dat ons moet terugkeer na apartheid. Jy sê basies: Los die ekonomie in die hande van die wittes. Dit sal nooit toegelaat word nie.”

Dit is die enigste afskrikmiddel wat vir hom oorbly – hierdie vervalle “apartheidskaart”. Die syfers oor SEB, of “swart ekonomiese ontmagtiging” soos dr. Dirk Hermann daarna verwys, vertel immers ʼn heel ander verhaal.

Die koste van SEB is onlangs in ʼn verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) en die Vryemarkstigting blootgelê. Die gevolgtrekkings gee koue rillings: Bykans 4 miljoen werkgeleenthede het in die slag gebly en Suid-Afrika het ʼn BBP-groei van tot 3% ingeboet net om aan SEB-voorskrifte te voldoen.

Dit laat die ekonomie doodbloei en dit kos Suid-Afrika jaarliks ongeveer R290 miljard net om aan SEB te voldoen. Boonop het ongelykheid nie verbeter nie, maar vererger; werkloosheid, onder veral swart landsburgers, het deur die plafon geskiet terwyl die beleide beleggers afskrik en Suid-Afrika se algehele ekonomiese posisie ver agteruit laat beweeg.

SEB is ʼn vernietigende verskynsel vir jou as Suid-Afrikaner, ongeag jou velkleur. Tensy jy een van die swart elite is, natuurlik. Dán moet jy alles doen om jou kadergoudmyn te beskerm, al verg dit dan ook leuens om dit te doen. Professor William Gumede van die Witwatersrand Universiteit het onlangs geskat dat SEB ʼn skamele 100 individue glo tot een duisend miljard rand ryker gemaak het.

Dit wil sê daar is duidelik veel meer as net reputasie op die spel vir hierdie ryk kaders.

Soos die waarheid daaroor nou by die krake uitpeul, sien ons hoe SEB nie nét diskriminerende rasseklassifikasie teenoor minderhede is nie, maar ook hoegenaamd geen “regstelling” bied aan die meerderheid Suid-Afrikaners wat inderdaad arm en swart is nie.

Al hoe meer Suid-Afrikaners van verskeie agtergronde sien die kaderverryking vir wat dit is. Dit is nie ʼn oplossing nie, maar ʼn oorsaak van reusagtige maatskaplike probleme en dit is ʼn vyand van vooruitgang vir bykans elke gemeenskap in hierdie land.

“Raswette is ʼn siek stelsel wat die ekonomie én arbeidsmark doodmaak,” het dr. Hermann onlangs daaroor gesê.

Suid-Afrika en sy mense is met reg baie kwaad. Hulle geduld is op.

Intussen raak die ANC uit meer as net stemme. Alles raak op – hul geld, idees en ook hul morele hoë grond. En hul kredietwaardigheid krimp elke keer wanneer ʼn transaksie met die “apartheidskaart” deur die werklikheid geweier word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel