loading
Artikels
2 weke gelede
dit-is-wat-skole-moet-weet-oor-bela-in-2025

Foto Krediet: OkayDeer

Dit is wat skole moet weet oor Bela in 2025

President Ramaphosa het in Desember die Bela-wet bekragtig. Solidariteit se skikking met die presidensie en die minister van basiese onderwys by Nedlac is nietemin bindend, ongeag wat radikale stemme uit die ANC daaroor mag sê.

Die president se aankondiging oor die Bela-wet is teenstrydig en probeer klaarblyklik om alle partye tevrede te stel. Daar moet egter nog baie water in die see loop voordat hierdie artikels in werking kan tree.

Die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, moet dus magsmisbruik in die toepassing van die wet voorkom deur eers norme, standaarde en regulasies te ontwikkel. Gwarube moet ook die tydsraamwerk hiervoor vasstel.

Elke skool is volkome daarop geregtig om sy belange, taalbeleid, leerders en personeel se regte te beskerm. Solidariteit is slaggereed om ondersteuning te bied waar skole dit benodig. Meld enige boeliegedrag a.g.v. die Bela-wet hier aan.

Hier is kortliks die kernpunte oor artikels 4 en 5 van die Bela-wet en die skikking waaroor Solidariteit jou wil inlig:.

  • Afrikaanse skole wat vol is, mag nie gedwing word om hul taalbeleid te verander nie.
  • Die taalbehoeftes van omliggende gemeenskappe moet eerder in ag geneem word as dié van die onderwysdistrik.
  • Amptenare wat artikels 4 en 5 probeer implementeer voordat die regulasies voltooi is, sal volgens die skikking onregmatig optree.
  • Die wet is gepromulgeer, maar die implementering daarvan word aan die minister oorgelaat.
  • Solidariteit behou die reg voor om die proklamasie van die wet in die hof te betwis.
  • Sekere elemente van die Bela-wet sal ook grondwetlik getoets word.
  • Solidariteit sal verseker dat hul Nedlac-ooreenkoms met die minister in norme en standaarde omskep word om sodoende Afrikaanse skole te beskerm.

Indien enige vorm van intimidasie of ontwrigting voorkom, kan die volgende stappe gevolg word:

  1. 1. Dokumenteer alle gebeure deeglik. (Neem foto’s, video’s, en notas.)
  2. 2. Meld die voorval(le) dadelik by Solidariteit (012 644 4300) aan of stuur ‘n e-pos na diens@solidariteit.co.za
  3. 3. Tree binne die raamwerk van die wet op en moet onder geen omstandighede aan druk toegee nie. Die reg op toegang tot die skoolterrein word steeds voorbehou, en die veiligheid van personeel en leerders wat by die skool ingeskryf is, bly die hoogste prioriteit.

“Elke skool is volkome daarop geregtig om sy belange, taalbeleid, leerders en personeel se regte te beskerm. Solidariteit is slaggereed om ondersteuning te bied waar u dit benodig,” sê Johan Botha, hoof van die Solidariteit Onderwysernetwerk.

Die Solidariteit Beweging, AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum bly paraat en vasberade om die regte van Afrikaanse skole en gemeenskappe te beskerm. Hulle sal die implementering van die Bela-wet noukeurig monitor.

Met hul regspanne gereed, sal enige poging tot magsmisbruik of onregmatige optrede sterk teengestaan word. Die fokus verskuif nou na die minister van basiese onderwys om die beloofde regulasies in werking te stel. Solidariteit sal voortgaan om skole te ondersteun, terwyl hulle ook hul reg voorbehou om tot verdere regsoptrede oor te gaan indien dit nodig sou wees.

Só beskerm Solidariteit die voortbestaan van Afrikaans in skole. Lees hier meer oor wat Solidariteit bied.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel