loading
avatar
Artikels
16 uur gelede
afrikaanse-skole-bly-afrikaans-al-hersien-duisende-hul-taalbeleid

Fotokrediet: Pexels

Afrikaanse skole bly Afrikaans, al hersien duisende hul taalbeleid

Deur Leré Nel

Altesaam 11 794 openbare skole het reeds hul taalbeleide ingevolge die Bela-wet hersien, volgens berigte. Nog 11 860 skole het hul toelatingsbeleid hersien.

Volgens Johnell Prinsloo, onderwysnavorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), was baie van die aanpassings tegnies van aard. Die hersieningsproses het nie enkelmediumskole verplig om ʼn tweede onderrigtaal by te voeg nie.

Die Departement van Basiese Onderwys (DBO) het dié syfers op 10 November aan die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys voorgelê. Volgens die DBO was 11 657 taalbeleidshersienings en 11 715 toelatingsbeleidshersienings steeds uitstaande. Die komitee het ʼn lys van die betrokke skole, die redes waarom die hersienings nog nie afgehandel is nie en realistiese tydlyne vir die afhandeling daarvan aangevra.

Komiteevoorsitter Joy Maimela het daarop gewys dat die uitstaande hersienings kommer wek omdat ouers reeds om plek vir hul kinders aansoek doen.

Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, het aan die komitee gesê dat haar departement saam met provinsiale onderwysdepartemente werk om skole met die toepassing van die wet by te staan.

Wat het in skole se beleide verander?

Prinsloo sê gereelde beleidshersiening is reeds ʼn gevestigde praktyk by skole met funksionerende beheerliggame. Die Bela-wet het egter meegebring dat skole landwyd hul beleide terselfdertyd moes hersien. Dit het ook skole geraak wat oor minder hulpbronne of kapasiteit beskik om hul beleide by die wet aan te pas. Volgens Prinsloo het Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) skole met dié proses bygestaan.

“Die aanpassings was meestal tegnies van aard: verfyning van bestaande bepalings en die opdatering van definisies sodat dit met die toepaslike wetgewing en gepubliseerde regulasies ooreenstem,” sê Prinsloo.

Sy verduidelik dat ʼn skool dus sy taalbeleid kan hersien sonder om sy onderrigtaal te verander. “Enkelmediumskole bly enkelmedium, en hul taalbeleide weerspieël dit steeds,” sê sy.

Nuwe taalnorme steeds uitstaande

Volgens Prinsloo is die nuwe norme en standaarde vir taalbeleid in openbare skole nog nie gepubliseer nie. Die bestaande norme en standaarde, wat in Desember 1997 in die Staatskoerant gepubliseer is, geld dus steeds.

“Ons sou graag groter vordering wou sien met die finalisering van die regulasies en norme en standaarde,” sê Prinsloo. “Dit is egter noodsaaklik dat hierdie prosesse nie afgerammel word nie en dat billikheid en praktiese uitvoerbaarheid nie ter wille van spoed prysgegee word nie.”

Sy waarsku dat vorige onderwysregulasies in sommige gevalle eerder regsonsekerheid as duidelikheid geskep het. Volgens haar behoort die uitwerking op leerders die maatstaf vir die uitstaande regulasies te wees.

“Dit is in die beste belang van onderwys, en uiteindelik van die leerders in die klaskamer, dat die regulasies ingevolge die Bela-wet nie politieke ideologie weerspieël nie, maar gehalte-onderrig bevorder.”

Die Bela-wet raak jou beslis as jy ʼn onderwyser is. Maak seker jy is by Solidariteit se Onderwysernetwerkgroep aangsluit, sodat jy op hoogte kan bly van belangrike nuus wat jou beroep raak.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel