Fotokrediet: OkayDeer
Gekopieër
Skole aangemoedig om kommentaar oor OBIS-regulasies te lewer
Solidariteit moedig skole en skoolbeheerliggame aan om die geleentheid te benut om kommentaar op die voorgestelde regulasies vir die nasionale Onderwysbestuursinligtingstelsel (OBIS), wat deel vorm van die Bela-regulasies, te lewer. Solidariteit het reeds sy eie kommentaar ingedien en stel nou ʼn ontleding en kommentaarraamwerk beskikbaar om skole met hul eie voorleggings te help.
Die konsepregulasies brei die las op skole vir die insameling, verifiëring, beveiliging en indiening van onderwysdata aansienlik uit. Die regulasies bevat onder meer bepalings oor die aftekening van onderwysdata deur skoolhoofde, asook hul verantwoordelikheid om toe te sien dat die inligting akkuraat is en aan die departement van basiese onderwys se spesifikasies voldoen. Dit sluit ook vereistes in vir onderwysinstellings om voorgeskrewe minimumdatavelde vas te lê, te verifieer en binne bepaalde tydraamwerke in te dien.
“OBIS is nie iets nuuts waarmee skole eers in die toekoms te doen gaan kry nie. Skole werk reeds met die stelsel en dra reeds ʼn groot administratiewe las. Die voorgestelde regulasies formaliseer en verbreed egter verskeie verantwoordelikhede rondom die versameling, verwerking en bestuur van data. Juis daarom behoort skole self die regulasies en bylaes deeglik te bestudeer en kommentaar te lewer oor die praktiese uitwerking daarvan,” sê Johnell Prinsloo, onderwysnavorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).
Volgens Solidariteit se ontleding is die doel van konsekwente en akkurate onderwysdata vir beplanning en hulpbrontoewysing geldig, maar verskeie bepalings skep onsekerheid. Hieronder tel onduidelike begrippe, die hantering van sensitiewe persoonlike inligting, die omvang van die departement se bevoegdhede en ʼn gebrek aan duidelike beperkings op die gebruik van versamelde data.
“Skole is op grondvlak verantwoordelik vir die versameling en korrekte deurgee van groot hoeveelhede inligting. Dit sluit sensitiewe persoonlike inligting oor leerders in, soos gesondheids-, sielkundige en ander persoonlike data. Die beskerming van hierdie inligting en duidelike reëls oor toegang en gebruik is dus van groot belang,” sê Prinsloo.
Die raamwerk wys onder meer op moontlike probleme rondom databeskerming, ongedefinieerde begrippe, die vrystelling van data aan derde partye, oudit- en toegangsbevoegdhede en die gebrek aan duidelike standaarde vir sekere verpligtinge. Dit bied ook konkrete voorstelle wat skole volgens hul eie omstandighede kan oorweeg. Die dokument is uitdruklik ʼn raamwerk en nie ʼn finale voorlegging namens enige organisasie nie; skole kan toepaslike punte kies, aanpas of aanvul.
Die aanvanklike kommentaartydperk van 30 dae is met ʼn verdere 30 dae verleng. Volgens die kommentaarraamwerk is die nuwe sluitingsdatum 10 Oktober 2026.
Solidariteit doen daarom ʼn beroep op skole en beheerliggame om nie bloot op algemene kommentaar staat te maak nie, maar die regulasies en bylaes vanuit hul eie praktiese ervaring te beoordeel.
“Geen twee skole se administratiewe kapasiteit, infrastruktuur en praktiese uitdagings is presies dieselfde nie. Ons ontleding en raamwerk bied ʼn vertrekpunt, maar skole behoort hul eie ervaring te gebruik om deurdagte en toepaslike kommentaar voor die sperdatum in te dien,” sê Prinsloo.