Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
3 uur gelede
regter-motha-oor-rasbeheptheid-vasgevat-na-solidariteit-klagte

Fotokrediet: Okay Deer

Regter Motha oor rasbeheptheid vasgevat ná Solidariteit-klagte

Solidariteit se Regsnetwerk verwelkom die Regterlike Gedragskomitee (JCC) se beslissing oor die klagte teen regter Madlenkosi Motha, wie se uitsprake oor die ras van regslui in ʼn saak in 2024 wyd opslae gemaak het.

Volgens die beslissing moet regter Motha ʼn waarskuwing ontvang om nie weer soortgelyke uitlatings te maak nie. Die Gautengse regter-president, Ledwaba, moet hom ook binne 15 dae ná die uitspraak berispe.

Die saak spruit voort uit ʼn skrywe wat regter Motha aan vier advokate gerig het. In die skrywe het hy ʼn verduideliking geëis waarom nie een van die advokate wat in ʼn saak in die Gautengse hooggeregshoof oor swartbemagtigingstelkaarte teenoor mekaar opgetree het, swart is nie. 

Hy wou weet of dit artikel 9(2) van die Grondwet, wat voorsiening maak vir maatreëls om historiese benadeling reg te stel, skend.

Advokaat Johan Brand SC het beswaar gemaak en ʼn memorandum in plaas van die versoekte hoofde van betoog ingedien. Hy het aangevoer dat die advokate se ras geen verband met die meriete van die saak gehad het nie en dat kliënte en die staatsprokureur vry moet wees om regsverteenwoordigers op grond van hul ervaring en kundigheid te kies.

Solidariteit se Regsnetwerk het daarna ook ʼn klagte teen regter Motha ingedien. Die klagte het tot die huidige beslissing gelei, waarvolgens Motha berispe moet word.

Die Regsnetwerk sê regters moet deur die toepaslike prosesse aanspreeklik gehou kan word wanneer hul optrede vrae laat ontstaan oor diskriminasie, grondwetlikheid of geregtelike onpartydigheid.

Volgens Emíl Glas, organiseerder van die Solidariteit Regsnetwerk, moet ʼn advokaat wat voor die hof verskyn, ʼn kliënt se saak kan stel sonder om te hoef te verduidelik waarom iemand van ʼn ander velkleur nie die opdrag gekry het nie.

“Wanneer ras op dié manier ter sprake gebring word in ʼn saak waarin dit volgens ons geen verband met die meriete het nie, word sowel die advokaat se professionele meriete as die kliënt se keuse van regsverteenwoordiging ondermyn,” sê Glas.

“Openbare vertroue in die regbank berus daarop dat mense weet hul saak sal op die feite en die reg beslis word. ʼn Onafhanklike regbank en ʼn geloofwaardige klagteproses versterk mekaar.

“Lede van die regsberoep moet weet dat hulle op die Solidariteit Regsnetwerk kan staatmaak wanneer hulle deur optrede van dié aard benadeel word,” sê Glas.

Solidariteit sê die regsberoep moet met mening beskerm word teen uitsprake of optrede wat professionele meriete en individuele keuse op grond van ras ondermyn.

Die Solidariteit Regsnetwerk verwelkom die langverwagte uitspraak. Hoewel dit ʼn klein oorwinning is, is dit ʼn stap in die regte rigting. Die netwerk sal voortgaan om die trots en integriteit van die regsberoep te beskerm, ongeag hoe lank dit neem.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel