loading
avatar
Artikels
4 uur gelede
ontmoet-die-solidariteit-regsnetwerk-se-adviesraad

Fotokrediet: OkayDeer

Ontmoet die Solidariteit Regsnetwerk se adviesraad

Caria van der Merwe

Die regsberoep is voortdurend aan die ontwikkel, en daarmee saam ontstaan nuwe uitdagings en geleenthede. Om regslui in hierdie veranderende omgewing te ondersteun, is dit belangrik om te kan staatmaak op die kennis en ervaring van mense wat die beroep deur en deur ken.

Die Solidariteit Regsnetwerk se adviesraad speel hierin ʼn belangrike rol. Deur hul kundigheid en insigte te deel, help die raadslede om die netwerk se werk ter bevordering en beskerming van die regsberoep te rig en te ondersteun. Dit sluit onder meer die professionele ontwikkeling van regslui en die bevordering van Afrikaans as beroepstaal in.

Die adviesraad vir die termyn 2026 tot 2031 bestaan uit agt kundiges met uiteenlopende agtergronde en ʼn gedeelde passie vir die reg.

Maak kennis met die mense agter die kundigheid.

Dawie Beyers

Dawie Beyers is ʼn ervare prokureur wat reeds sedert 1993 praktiseer. Hy het sy regsloopbaan as administratiewe klerk by die destydse Patente- en Handelsmerkekantoor begin nadat hy die onderwys verlaat het. Daarna het hy sy BProk-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) verwerf en sy klerkskap by dr. P.J. Kotzé voltooi.

In 1998 het hy die vennootskap Beyers & Day Prokureurs gestig. Dawie Beyers Prokureurs het in 2012 tot stand gekom. Sy praktyk dek verskeie regsgebiede, waaronder familiereg, insolvensiereg, kommersiële reg, kontraktereg, trusts en boedelbeplanning.

Dawie het 15 jaar lank op die uitvoerende bestuur van die Pretoria-prokureursvereniging gedien en dien tans op die Gautengse Provinsiale Raad van die Regspraktykraad. Hy is ook reeds jare lank as meester en beroepsvoog by Solidariteit betrokke. Buiten sy regsloopbaan is hy ʼn deeltydse pekanneutboer en wildboer.

Prof. Hermie Coetzee

Prof. Hermie Coetzee is die dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan Akademia en ʼn buitengewone professor aan die Noordwes-Universiteit. Sy het ʼn BCom-graad in Regte, LLB- en LLM-grade, almal met lof, asook ʼn LLD-graad.

Sy is ʼn toegelate prokureur en spesialiseer in verbruikerskredietreg en verbruikersinsolvensiereg, met ʼn verdere belangstelling in ondernemingsreg. Voordat sy in 2020 by Akademia aangesluit het, was sy sedert 2006 in verskeie hoedanighede aan die Universiteit van Pretoria verbonde. In 2022 is sy as Akademia se eerste dekaan van Regsgeleerdheid aangestel.

Hermie het aan navorsingsprojekte vir onder meer die Wêreldbank en die Nasionale Kredietreguleerder deelgeneem en is die skrywer en medeskrywer van talle akademiese publikasies. Sy dien ook op die redaksie van die Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg en was voorheen by die Suid-Afrikaanse Regshervormingskommissie betrokke.

Nathea Smith

Nathea Smith is ʼn toegelate prokureur en die stigter van Nathea Smith Attorneys Inc., ʼn regsfirma wat sy in 2024 gevestig het. Sy het haar LLB-graad aan Unisa verwerf terwyl sy deeltyds studeer en by prokureursfirmas gewerk het.

Haar regsloopbaan het in 2012 as regsekretaresse begin, waarna sy tot mededirekteur by haar vorige firma gevorder het. Sy is in 2019 as prokureur toegelaat en beskik oor verskyningsbevoegdheid in die Hooggeregshof.

Nathea spesialiseer hoofsaaklik in familiereg en praktiseer in Gauteng. Haar firma bestaan tans uit vyf vroue wat saam aan die onderneming se groei werk. Sy is besonder passievol oor die bevordering van geregtigheid en die ontwikkeling van jongmense en vroue binne die regsberoep.

Ruan Wepener

Ruan Wepener is ʼn toegelate prokureur in Pretoria. Hy het sy LLB-graad in 2023 aan Akademia voltooi en as toppresteerder in sy klas geëindig. Hy het ook ʼn kwalifikasie in regsadministrasie met lof verwerf en die toekenning vir die beste skripsie ontvang.

Hy is op 11 Junie 2026 as prokureur toegelaat en stel veral belang in strafreg, siviele litigasie, likwidasies, onderhandeling en geskilbeslegting. Hy het ook verdere opleiding in hofpleitkuns (Trial Advocacy) by Circle Chamber Advocates voltooi.

Benewens sy praktykswerk is Ruan betrokke by die ontwikkeling van toekomstige regslui. Hy het onder meer as mentor vir Akademia se skynhofspanne opgetree en studente met hul regsargumente en hofvoorbereiding ondersteun. Hy dien ook op Solidariteit se Nasionale Raad en streef daarna om deur sy betrokkenheid ʼn betekenisvolle bydrae tot die regsberoep te lewer.

Dr. Llewelyn Curlewis

Dr. Llewelyn Curlewis is ʼn ervare regspraktisyn en akademikus met meer as 30 jaar in die regsberoep. Hy is ʼn senior dosent aan die Universiteit van Pretoria en doseer ook aan verskeie ander plaaslike en internasionale regsinstellings.

Hy beskik oor verskeie regsgrade, waaronder drie LLM-grade en ʼn LLD in Strafreg, asook kwalifikasies in forensiese rekeningkunde en alternatiewe geskilbeslegting. Hy is ʼn voormalige staatsaanklaer en advokaat en praktiseer tans as prokureur, notaris en waardeerder.

Llewelyn spesialiseer in strafreg, prosesreg, dissiplinêre reg, arbeidsreg en hofpleitkuns. Hy het reeds in talle hoëprofielhofsake opgetree en is by verskeie professionele regsinstellings betrokke. Hy dien tans as ondervoorsitter van die Nasionale Regspraktykraad en het voorheen verskeie leiersposisies in die georganiseerde regsberoep beklee.

Hy is ook die skrywer van talle regshandboeke en akademiese artikels en het as spreker aan internasionale konferensies deelgeneem. Hy is een van die min Suid-Afrikaners wat op die Internasionale Strafhof in Den Haag se paneel van verdedigingsadvokate dien. Hy het ook reeds by verskeie geleenthede as waarnemende regter in die Hooggeregshof gedien.

Dr. Willem Gravett

Dr. Willem Gravett is ʼn hoogleraar en hoof van die Departement Publiek- en Prosesreg aan Akademia, waar hy Internasionale Reg en Bewysreg doseer. Hy was voorheen ʼn medeprofessor in die Departement Prosesreg aan die Universiteit van Pretoria.

Voordat hy in 2013 na die akademie teruggekeer het, het Willem 15 jaar lank in die privaat regspraktyk in New York gewerk. Hy is as advokaat van die Hooggeregshof van Suid-Afrika toegelaat en is ook ʼn lid van die New York State Bar.

Hy beskik oor BLC- en LLB-grade, albei met lof, van die Universiteit van Pretoria, ʼn LLM-graad met die hoogste lof van die Universiteit van Notre Dame en ʼn LLD-graad van die Universiteit van Pretoria. Hy is ook ʼn lid van die International Association of Procedural Lawyers.

Beyers Barnard

Beyers Barnard is ʼn ervare regsgeleerde en staatsaanklaer. Hy het sy LLB-graad in 2019 aan die Noordwes-Universiteit verwerf. Sedert Februarie 2023 is hy as distrikshofaanklaer by die Nasionale Vervolgingsgesag werksaam, waar hy strafregtelike litigasie in verskeie landdroshowe in Noordwes behartig.

Hy het die aspirantaanklaersprogram suksesvol voltooi en reeds twee hoëprofielborgaansoeke ingevolge Bylae 6 suksesvol teengestaan.

Voordat hy by die Nasionale Vervolgingsgesag aangesluit het, het Beyers sy eie regsonderneming, PROCK Professional Legal Counsel, gestig en as regsbestuurder vir die SASSTEC-groep, nou die Bona Inkamva-groep, gewerk. In dié hoedanigheid het hy litigasie ter waarde van byna R500 miljoen oor meer as 130 sake bestuur en kontrakte ter waarde van meer as R42 miljard opgestel.

Sy kundigheid sluit strafregtelike en siviele litigasie, konstruksiereg, arbitrasie en kommersiële kontrakte in. Buiten sy regsloopbaan stel hy belang in skrynwerk en tegnologiese produkontwikkeling.

Sarita Gerber

Sarita Gerber is ʼn regsakademikus en toegelate prokureur wat tans as dosent in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan Akademia werksaam is. Sy beskik oor ʼn LLB-graad, ʼn LLM-graad in Korporatiewe Reg en ʼn SARIPA-diploma in Insolvensiereg.

Sy is tans besig met haar LLD in Insolvensiereg. Haar navorsing fokus op pasgemaakte skuldverligting vir kommersiële boerderyondernemings in Suid-Afrika. Sy is in 2010 as prokureur toegelaat en het voor haar aanstelling by Akademia by verskeie openbare en privaat akademiese instellings gewerk, waaronder die Universiteit van Pretoria.

Sarita doseer handelsreg en kommersiële reg aan studente in verskillende BCom-programme en begelei ook LLB-studente met hul navorsing. Sy het verskeie artikels in ewekniebeoordeelde vaktydskrifte gepubliseer en is die skrywer van die kontrakteregafdeling in Nagel’s Business Law. Sy is ook ʼn direkteur van Orliflex (Edms.) Bpk., ʼn onderneming wat in oorgrensvervoer spesialiseer.

Saam bou ons aan ʼn sterker regsberoep

Met kundigheid wat oor die akademie, privaat regspraktyk en openbare sektor strek, is die Solidariteit Regsnetwerk se adviesraad goed toegerus om die netwerk met ingeligte advies en beroepspesifieke insigte te ondersteun.

Bly op hoogte van die jongste verwikkelinge in die regsberoep. Laai S af en ontdek alles wat die Solidariteit Regsnetwerk jou bied.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel