loading
avatar
Artikels
9 uur gelede
student-tot-meester-ervare-regslui-deel-hul-perels-van-wysheid

Fotokrediet: Solidariteit

Student tot Meester: Ervare regslui deel hul pêrels van wysheid

Deur Leré Nel

Die boeke kan jou baie leer, maar daar is sekere lesse wat jy nét in die praktyk kan leer. Dit is juis waarom Solidariteit se jaarlikse Student tot Meester-geleentheid so waardevol is. Dit bied studente die geleentheid om by ervare beroepslui te leer, vrae te vra en ʼn blik te kry op die wêreld van werk wat op hulle wag.

Studente het by vanjaar se Student tot Meester-funksie weer die geleentheid gekry om met meesters uit verskillende beroepe skouers te skuur. Die Solidariteit Regsnetwerk se meesters het ook hul kennis, ervaring en raad met die volgende geslag regslui gedeel.

Ná afloop van die geleentheid is vier van die Solidariteit Regsnetwerk se meesters gevra om hul indrukke van die studente te deel, te vertel wat hulle self uit die ervaring geleer het en ʼn paar pêrels van wysheid aan diegene oor te dra wat nog aan die begin van hul loopbaan staan.

Dawie Beyers: Daar is nie kortpaaie na sukses nie

Vir Dawie Beyers, direkteur van Dawie Beyers Prokureurs, was die geleentheid ʼn kans om studente aan die praktyk bloot te stel, hul belangstelling in die regsberoep aan te wakker en hul onsekerheid oor die beroep te verminder.

Sy belangrikste raad aan jong regslui is dat daar nie kortpaaie na sukses is nie. “Wees leergierig en nuuskierig,” sê hy. “Daar is baie struikelblokke en strikke vir die voortvarende opgestel.” Volgens hom is dit juis hierdie ingesteldheid wat jou op die regte pad help.

Nathea Smith: Bly nederig en bereid om te leer

Nathea Smith, direkteur van Nathea Smith Prokureurs, het deelgeneem omdat sy graag geleenthede wil skep vir die volgende geslag – geleenthede wat sy self nie as ʼn student gehad het nie.

Volgens Smith is dit veral belangrik om sulke geleenthede vir studente te skep wat moontlik die eerste in hul familie is om die regsberoep te betree.

Haar raad aan toekomstige regslui is eenvoudig: “Wees altyd nederig, gewillig om te leer en hardwerkend.”

Wat haar van die geleentheid bygebly het, is die jong generasie se bereidwilligheid om te leer. Dit het haar ook laat besef dat praktiserende regslui meer kan doen om studente te ondersteun.

“Dié ondersteuning hoef nie finansieel te wees nie,” sê sy. “Soms is ʼn bietjie tyd, ondersteuning of aanmoediging al wat ʼn jongmens nodig het.”

Nareanka Withfield: Jou loopbaan hoef nie volgens plan te verloop nie

Vir Nareanka Withfield, hoof van aktes by Fivaz Prokureurs, was dit besonder betekenisvol om studente in hul eie taal te kon ondersteun en hulle bloot te stel aan die lewe ná hul studies.

Haar grootste pêrel van wysheid aan jong regslui is om nederig te bly.

“Om ‘boekslim’ te wees is een ding, maar jy moet nederig bly sodat jy jouself kan oopmaak vir die praktiese wêreld daar buite,” sê sy.

“Die geleentheid het my ook herinner aan my dae as student, en my laat besef dat my loopbaanpad baie anders gelyk het as wat ek beplan het,” sê sy. “En tog is ek nou op ʼn plek waar ek as ʼn meester beskou word!”

Daar is nie net een pad nie, en elkeen het sy eie bestemming.

“Daarom is dit waardevol vir studente om die geleentheid te kry om met meesters te gesels en vrae te vra – omdat klasse en studies hulle nie noodwendig oor die eindelose moontlikhede daar buite inlig nie.”

Adv. Danielle Nel: Jy hoef nie alles van die begin af te weet nie

Advokaat Danielle Nel van die Pretoria-balie onthou hoe waardevol dit vir haar as student was om met praktiserende regslui in aanraking te kom. “My destydse mentors het beslis ʼn rol gespeel in die beroepskeuses wat ek later gemaak het,” sê sy.

Dit was daarom vir haar besonders om hierdie keer aan die ander kant van die tafel te sit en dieselfde geleentheid aan studente te bied.

Haar boodskap aan regstudente is dat hulle nie alles hoef te weet wanneer hulle die beroep betree nie – niemand verwag dit van hulle nie.

Volgens Nel is ʼn bereidwilligheid om te leer, vrae te vra en hard te werk baie belangriker as om van die begin af al die antwoorde te hê.

Die studente se vrae het haar ook herinner aan die onsekerhede wat sy self ervaar het toe sy die beroep betree het.

“Jy hoef nie jare se ervaring te hê om iets vir iemand anders te beteken nie,” sê sy.

Die volgende geslag regslui het baie om na uit te sien

Alhoewel elke meester ʼn ander loopbaanpad gestap het, kom een boodskap duidelik uit hul terugvoer na vore: nederigheid, harde werk en ʼn bereidwilligheid om voortdurend te leer, is onontbeerlik in die regsberoep.

Die meesters se indrukke van die studente was eweneens bemoedigend. Hul nuuskierigheid, eerlike vrae en entoesiasme om te leer, wys hoe waardevol dit is om jongmense die geleentheid te gee om met ervare beroepslui in gesprek te tree.

Deur inisiatiewe soos Student tot Meester help die Solidariteit Regsnetwerk om die gaping tussen die lesinglokaal en die praktyk te oorbrug. Dit skep ʼn ruimte waar kennis en ervaring oorgedra, verhoudings gebou en die volgende geslag regslui toegerus word om hul beroepspad met groter selfvertroue aan te pak.

Of jy nou ʼn regstudent of ʼn meer ervare beroepspersoon is, maak seker dat jy nie die volgende Student tot Meester-geleentheid misloop nie. Hou die Solidariteit Regsnetwerkgroep dop vir meer inligting!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel