Fotokrediet: Pexels
Gekopieër
Ferroglobe se oonde bly koud in aanleg se eeufeesjaar
Solidariteit sê die besluit om Ferroglobe se smeltoonde in Witbank teen einde November tydelik te sluit, raak sowat 200 poste en plaas nog onuithoudbare druk op Mpumalanga se nywerheidswerkers.
Die aanleg het in 1926 met produksie begin, maar nou, ʼn eeu later, is daar te min bestellings om die oonde weer aan die gang te kry.
Ferroglobe het onlangs vordering met Eskom en die regering gemaak om ʼn moontlike spesiale kragtarief te onderhandel. Die maatskappy sê egter dat die agteruitgang in die plaaslike staal- en vlekvryestaalbedrywe, en die afname in bevestigde bestellings vir ferrosilikon en verwante neweprodukte, beteken dat die hervatting van bedrywighede, selfs teen ʼn gunstiger tarief, tans nie lewensvatbaar is nie.
Volgens Cornelius van Leeuwen, Solidariteit se sektorkoördineerder vir die metaal- en ingenieursbedryf, wys hierdie besluit hoe nou die lot van plaaslike smelters en staalvervaardigers met mekaar verweef is.
“ʼn Smelter het bekostigbare elektrisiteit én bestellings nodig. Ferroglobe het ʼn lewensvatbare plaaslike staalbedryf nodig wat sy produkte koop.
“Plaaslike staalvervaardigers het op hul beurt betroubare verskaffers van die bymiddels vir staalvervaardiging nodig wat in hul staalvervaardigingsprosesse gebruik word. As die een bedryf krimp, voel die ander dit in sy bestelboeke en uiteindelik op sy betaalstaat,” sê Van Leeuwen.
Solidariteit het vroeër die spesiale kragtarief vir Glencore-Merafe en Samancor verwelkom en versoek dat ander smelters ook dringend sekerheid oor hul kragtariewe kry.
Die vakbond sê Ferroglobe se besluit wys dat die regering ook die druk op die plaaslike mark moet aanspreek.
Solidariteit doen ʼn beroep op die regering en Eskom om mededingende kragtariewe vir sowel smelters as plaaslike staal- en vlekvryestaalvervaardigers beskikbaar te stel.
Die regering moet ook dringend toepaslike invoertariewe op staal- en vlekvryestaalprodukte uit China instel, waar goedkoop invoere plaaslike produksie ondermyn. Suid-Afrika se uitvoermark vir vervaardigde staalprodukte verkeer ook onder druk en die onsekerheid oor hierdie markte het ʼn groot impak op produsente van staalprodukte.
“Hierdie werksverliese was voorkombaar. Die regering moet nou saam met die bedryf en vakbonde om die tafel sit en oor kragpryse én invoerbeskerming besluit. Anders gaan ons aanhou om van een aanleg na die volgende oor afleggings te onderhandel, terwyl die plaaslike mark verder krimp,” sê Van Leeuwen.
Ferroglobe het in ʼn verklaring van sy eie aangedui hy sal die oonde in stand hou en die vooruitsigte vir ʼn hervatting van bedrywighede deurgaans beoordeel. Die maatskappy oorweeg dit ook om sekere bedrywighede te behou.
Solidariteit sal met die maatskappy in gesprek bly oor die beskerming van soveel moontlik poste en die voorwaardes vir ʼn moontlike hervatting van bedrywighede.