loading
avatar
Artikels
18 uur gelede
na-25-jaar-se-diens-verloor-hy-sy-werk-solidariteit-wen-meer-as-r360-000-vir-lid

Fotokrediet: OkayDeer

Ná 25 jaar se diens verloor hy sy werk – Solidariteit wen meer as R360 000 vir lid

Robin-Lee Maré

Ná 25 jaar se getroue diens het Gert Venter, ʼn elektrisiën van Potchefstroom, skielik sonder werk gesit. Wat ʼn bitter einde aan sy loopbaan kon wees, het egter in ʼn oorwinning verander toe Solidariteit hom bygestaan en vergoeding van R363 937,92 vir sy onbillike ontslag verseker het.

Venter was sedert Maart 2000 by Tiger Consumer Brands Limited (King Foods Potchefstroom) werksaam toe hy in September 2025 weens beweerde oneerlikheid afgedank is.

Die aantygings het gespruit uit sy betrokkenheid by ʼn eie onderneming wat hy vroeër begin het toe daar sprake van moontlike afleggings by sy werkgewer was.

Venter het egter nie sy onderneming probeer wegsteek nie. Hy het dit op die voorgeskrewe vorm verklaar en aangedui die onderneming is onaktief omdat dit nie meer sake gedoen het nie.

Sy werkgewer het hom nietemin van oneerlikheid aangekla en afgedank.

Solidariteit het Venter se saak na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) geneem, waar die werkgewer nie daarin kon slaag om te bewys hy het sy direkteurskap doelbewus verswyg, vals inligting verskaf of finansieel uit die onderneming voordeel getrek nie.

Die kommissaris het gevolglik bevind Venter se ontslag was sowel prosedureel as substantief onbillik en het vergoeding gelykstaande aan agt maande se salaris aan hom toegeken.

Volgens Dana Grové, litigant by Solidariteit, wys hierdie oorwinning waarom werknemers nooit hul regte moet prysgee nie.

“Wanneer iemand ná 25 jaar se diens sy werk verloor, gaan dit oor veel meer as net ʼn salaris. Dit raak hul finansiële sekerheid, hul aftrede en die toekoms waarvoor hulle jare lank gewerk het. Ons is verheug oor hierdie uitkoms en die verskil wat dit in ons lid se lewe kan maak,” sê Grové.

Die oorwinning beteken besonder baie vir Venter, wat gedurende die jaar ná sy ontslag waardevolle groei op sy pensioenbelegging misgeloop het.

Die vergoeding bied hom nou die geleentheid om weer geld in sy pensioen te belê en sy finansiële toekoms op stewiger grondslag te plaas.

“Hierdie saak herinner ons waarom Solidariteit vir sy lede opstaan. Agter elke arbeidsgeskil is ʼn mens met ʼn gesin, ʼn loopbaan en ʼn toekoms. Ons veg nie bloot vir ʼn gunstige uitspraak nie, maar vir die verskil wat so ʼn oorwinning in ons lede se lewens maak,” sê Grové.

Vir Venter beteken hierdie oorwinning meer as die monetêre uitbetaling; dit beteken nuwe hoop vir sy aftrede en die gerusstelling dat hy nie alleen is wanneer sy regte geskend word nie.

Venter spreek ook sy opregte dank uit teenoor die Solidariteit-span wat hom deur die proses bygestaan het, naamlik Adele Botha, Coenie Rheeder, Johan van Eck, Suerene Dyason en Dana Grové.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel