Fotokrediet: Verskaf
Gekopieër
Solidariteit gryp in: SAPD aanvaar foutiewe aansoek, maar verwerp korrekte aansoek
Robin-Lee Maré
Solidariteit het opnuut ʼn belangrike oorwinning vir billikheid in die werkplek behaal nadat die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) bevind het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is skuldig aan onbillike arbeidspraktyk teenoor lt.kol. Chubasco Moodaley deur sy korrek voltooide aansoek te verwerp, terwyl ʼn ander kandidaat se foutief voltooide aansoek wel aanvaar is.
Die KVBA het die SAPD beveel om agt maande se salaris aan Moodaley te betaal, nadat hy ʼn billike geleentheid ontneem is om vir ʼn kolonelrang mee te ding.
Moodaley, wat sedert 2002 in die SAPD dien en oor uitgebreide ervaring en verskeie kwalifikasies beskik, het aan die vereistes vir die rang van kolonel voldoen. Sy aansoek is aanvanklik oorweeg, maar hy is uiteindelik nie op die kortlys van agt kandidate geplaas wat vir onderhoude genooi is nie.
Die probleem het egter veel verder gestrek as bloot wie die kortlys gehaal het.
Een van die suksesvolle kandidate se aansoekvorm het nie korrek met die betrokke posbesonderhede ooreengestem nie. Die SAPD se eie advertensie het uitdruklik bepaal aansoeke wat nie aan die voorgeskrewe vereistes voldoen nie, nie oorweeg sou word nie. Nietemin is dié kandidaat se aansoek aanvaar en het die individu die kortlys gehaal.
Getuienis tydens die arbitrasie het verder bevestig Moodaley se aansoekvorm is korrek voltooi, terwyl die ander kandidaat se aansoek, volgens ʼn voormalige lid van die bevorderingspaneel, van meet af aan verwerp moes word weens die verkeerde komponent en subkomponent wat daarop aangedui is.
Volgens Dana Grové, litigant by Solidariteit, lê die belang van die uitspraak juis in ʼn eenvoudige beginsel: Dieselfde reëls moet vir almal geld.
“ʼn Werkgewer kan nie streng nakoming van een kandidaat vereis, maar wesenlike tekortkominge by ʼn ander kandidaat oorsien nie. Bevorderingsprosesse moet billik, konsekwent en volgens die werkgewer se eie voorskrifte verloop. Werknemers verdien ʼn regverdige kans om op ʼn gelyke grondslag mee te ding,” sê Grové.
Die KVBA-kommissaris het bevind die SAPD se argument oor die ander kandidaat se aansoek kon nie standhou nie. Volgens die uitspraak was die inligting wat in die advertensie en aansoekvorm vereis is juis bedoel om geskikte kandidate te identifiseer. Die kommissaris het ook beklemtoon onbillikheid ontstaan wanneer werknemers verskillend behandel word sonder ʼn regverdigbare rede.
Eenvoudig gestel beteken dit ’n werkgewer mag nie die reëls streng teenoor een werknemer toepas en terselfdertyd vir ’n ander werknemer ’n uitsondering maak sonder ’n geldige rede nie.
Die SAPD kon uiteindelik nie verduidelik waarom Moodaley die geleentheid ontneem is om vir die kortlys mee te ding terwyl ’n ander kandidaat wel toegelaat is om voort te gaan nie. Juis die verlies van hierdie billike geleentheid het ’n belangrike rol gespeel in die kommissaris se besluit om vergoeding van agt maande se salaris toe te ken.
Die uitspraak bevestig ’n eenvoudige beginsel: Reëls beteken min indien dit nie konsekwent op almal toegepas word nie.