loading
avatar
Artikels
19 uur gelede
solidariteit-se-hofoorwinning-bevestig-sy-reg-om-vir-die-regsberoep-op-te-tree

Fotokrediet: Verskaf

Solidariteit se hofoorwinning bevestig sy reg om vir die regsberoep op te tree

Robin-Lee Maré

Solidariteit het onlangs ʼn belangrike oorwinning in die hooggeregshof in Pretoria behaal met betrekking tot die omstrede sektorkodes vir die regsberoep. Die oorwinning strek verder as die stryd teen swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en bevestig ook Solidariteit se locus standi, oftewel sy regsbevoegdheid om namens lede in die regsberoep op te tree.

Die sektorkodes, wat ingevolge SEB-wetgewing ingestel is, het onder meer rasseteikens vir eienaarskap, bestuursbeheer, vaardigheidsontwikkeling en voorkeurverkryging voorgeskryf. Solidariteit het die kodes in die hof aangeveg weens die moontlike inbreuk op grondwetlike regte, beroepsvryheid en billike arbeidspraktyke.

Volgens Emil Glas, organiseerder van Solidariteit se Regsnetwerk, is die bevestiging van Solidariteit se locus standi ʼn besonder belangrike deel van die oorwinning.

“Hierdie uitspraak gaan oor veel meer as net sektorkodes. Dit bevestig ons plek as ʼn vakbond wat die belange van regspraktisyns kan beskerm en namens hulle in die hof kan optree,” sê Glas.

Tydens die hofsaak het die staat en ander respondente Solidariteit se regsbevoegdheid bevraagteken. Hulle het aangevoer Solidariteit het nie voldoende belang by die sektorkodes nie en sy lede word nie regstreeks daardeur geraak nie.

Die hof se bevestiging van Solidariteit se regsbevoegdheid is daarom van besondere belang vir die Regsnetwerk en sy lede.

“Die staat het ons reg om namens ons lede op te tree, probeer betwis. Hierdie oorwinning bevestig nou ons regsbevoegdheid om die belange van mense in die regsberoep deur die howe te beskerm,” verduidelik Glas.

Volgens Glas bied die uitspraak ook groter sekerheid aan prokureurs, advokate en ander regspraktisyns wat bekommerd is oor die toenemende invloed van SEB-beleid op hul beroepsgeleenthede.

“Regspraktisyns behoort hul beroep met vryheid en onafhanklikheid te kan beoefen. Hulle moet weet daar is ʼn netwerk wat bereid is om op te staan wanneer hul regte bedreig word,” sê Glas.

Die oorwinning versterk die rol van Solidariteit se Regsnetwerk as ʼn beskermer van die regsberoep en bevestig die waarde van kollektiewe optrede teen onbillike beleid en staatsinmenging.

“Ons het gewys ons is bereid om die staat die stryd aan te sê en ons lede se belange tot in die hof te verdedig. Hierdie oorwinning is nie die einde van ons werk nie, maar ʼn bevestiging van waarvoor ons Regsnetwerk staan,” sê Glas.

Solidariteit se Regsnetwerk moedig daarom alle prokureurs, advokate, kandidaatprokureurs en ander regspraktisyns aan om by die Regsnetwerk aan te sluit.

Word vandag ʼn lid van Solidariteit. Jou beroep verdien beskerming, en Solidariteit is gereed om namens jou op te tree.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel