Fotokrediet: ChatGPT
Gekopieër
Verkiesing: Onsekerheid oor koalisies, maar klaarspeel met radikale én roekelose regeerders
Deur Robin-Lee Maré
Suid-Afrika is ná die 2026-munisipale verkiesing skynbaar op ʼn beter plek, hoewel die uitslag nog nie ideaal is nie.
Kiesers het ʼn duidelike boodskap aan politieke partye gestuur: Suid-Afrikaners is moeg vir swak dienslewering, staatsplundering en radikale politiek.
Hulle soek ʼn alternatief.
Volgens dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, dui die verkiesingsuitslae op ʼn belangrike verskuiwing in die politieke landskap.
“Die ANC en EFF het behoorlik pak gekry. Kiesers het genoeg gehad van vervalle infrastruktuur, swak regering en politieke ideologieë wat nie oplossings bied nie. Suid-Afrikaners wil eenvoudig hê hul dorpe en stede moet werk,” sê Hermann.
Die ANC se verlies aan steun, tesame met die EFF se swak vertoning, dui volgens Hermann op ʼn groeiende verwerping van die tradisionele linkse struggle-ideologie. Vir die eerste keer het die ANC, MK en EFF saam minder as 50% van die steun ontvang.
“Veral jong Suid-Afrikaners begin waarskynlik toenemend wegbeweeg van ou politieke ideologieë. Hulle wil eerder geleenthede, werk en behoorlike dienslewering hê,” sê Hermann.
Intussen het die DA, ActionSA en VF Plus gegroei. Die DA se posisie as die grootste party in die metro’s dui volgens Hermann op kiesers se behoefte aan goeie regering, terwyl ActionSA as ʼn nuwe, meer gematigde alternatief na vore tree.
Die VF Plus se groeiende steun onder Afrikaners stuur ook ʼn belangrike boodskap.
“Afrikaners wil gehoor word. Hulle wil sien hoe hul belange, gemeenskappe en toekoms beskerm word. Die verkiesingsuitslae wys hierdie stem kan nie geïgnoreer word nie,” sê Hermann.
Solidariteit-lede verkies koalisie tussen DA, ActionSA en VF Plus
Die moontlikheid van koalisies in Gauteng se metro’s het intussen groot belangstelling onder Solidariteit se ondersteuners ontlok.
In ʼn meningspeiling waarin Dirk Hermann verskillende koalisie-opsies aan sy Facebook-volgers voorgehou het, het 94% van die respondente ʼn koalisie tussen die DA, ActionSA en VF Plus verkies.
Slegs 3% het ʼn DA- en ActionSA-koalisie verkies, terwyl 2% ten gunste van ʼn DA- en ANC-koalisie was. Nog 1% het ʼn koalisie tussen die ANC, ActionSA, EFF en ander partye gesteun.
Volgens Hermann weerspieël die peiling ʼn sterk voorkeur onder die respondente vir ʼn alternatief sonder die ANC en EFF.
“Die boodskap is duidelik. Mense wil ʼn regering hê wat werk. Hulle wil nie nóg vyf jaar van politieke bakleiery en verval beleef nie,” sê Hermann.
Hy waarsku egter teen die onstabiliteit wat koalisiepolitiek kan meebring.
“Ons staan waarskynlik voor ʼn onsekere en onstabiele koalisietyd. Die verkiesing het nuwe moontlikhede geskep, maar politieke partye sal nou moet bewys of hulle hul verskille opsy kan skuif om behoorlik te regeer.”
Ons toekoms is groter as politiek
Hermann beklemtoon egter dat Suid-Afrikaners se toekoms nie uitsluitlik van verkiesingsuitslae en politieke ooreenkomste afhang nie.
“Politiek bly ʼn belangrike deel van ons toekomsmandjie, maar dit is nie die hele mandjie nie. Ons kan nie elke vyf jaar wag en hoop politici gaan ons probleme oplos nie.
“Ons moet self voortbou aan sterk gemeenskappe, goeie onderwys, veilige omgewings en ʼn toekoms vir ons kinders. Dit is juis waarom Solidariteit se ons-sal-self-benadering so belangrik is.”
Volgens Hermann bied die verkiesingsuitslae rede tot versigtige optimisme, maar die verantwoordelikheid om ʼn beter Suid-Afrika te bou, bly by die gemeenskappe self.
“Politici kom en gaan. Koalisies word gevorm en val uitmekaar. Maar ons gemeenskappe bly. Daarom bly ons boodskap dieselfde: Ons wag nie vir ʼn beter toekoms nie. Ons bou self daaraan.”