Fotokrediet: ChatGPT
Gekopieër
Die ANC tuimel en ons stem dra tóg gewig
Pieter Jordaan
’n Gemeenskap hoef nie die grootste in die land te wees om ’n beduidende verskil by die stembus te maak nie. Jy moet wel opdaag.
Dit is een van die waarhede wat veral in 4 November 2026 se plaaslike verkiesing toepaslik was.
Dit is ook een van die belangrikste boodskappe uit hierdie. Terwyl miljoene Suid-Afrikaners by die stembus verbygeloop het, het Solidariteit-lede heel moontlik in groot getalle gaan stem.
Volgens ’n opname van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) kan Afrikaners se deelname tot 95% beloop.
Die finale opkomssyfers moet nog bevestig word, maar die beginsel is eenvoudig dat indien ’n gemeenskap se opkoms 95% is teenoor ’n nasionale opkoms van ongeveer 40%, is sy relatiewe gewig onder die totale stemme meer as dubbel sy aandeel onder geregistreerde kiesers.
Elke stem het steeds dieselfde waarde. Die verskil is dat sommige gemeenskappe hul stemreg veel vollediger benut.
Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, het dit voor die verkiesing raak opgesom toe hy gesê het: “Die gemeenskappe wat dit regkry om kiesers by die stembus te kry, is in ’n sterk posisie.”
Dit is juis waarom Solidariteit se oproep om te gaan stem saak gemaak het. Wie opdaag, help om oor leierskap te besluit. Wie tuisbly, laat die besluit aan ander oor.
Connie Mulder, hoof van die SNI, het voor die verkiesing hierdie voorspelling gewaag: “Die rusbank gaan hierdie verkiesing wen.”
Reeds in die vorige plaaslike verkiesing het net 45,87% van geregistreerde kiesers gestem. Mulder se vermoede was dat dié persentasie vanjaar nóg kleiner kon word.
Of die finale syfer dit bevestig, moet ons nog sien. Die politieke probleem waarop hy gewys het is egter reeds vir 2026 ook bevestig.
Dit is dat groot getalle mense nie meer genoeg rede sien om deel te neem nie.
Vir die ANC behoort dit ’n onheilspellende boodskap te wees. ’n Party kan nie onbepaald op gemeenskappe teer en verwag dat hulle elke vyf jaar dankbaar hul kruisies langs sy naam gaan trek nie.
Teen laatmiddag het die voorlopige uitslae die beeld versterk van ’n ANC wat verder tuimel en veral in belangrike metro’s teen die planke beland. Die party se aanspraak op mag as ’n soort historiese erfreg word al hoe moeiliker om met die werklikheid te versoen.
Mense is klaar met ’n regering wat belasting eis, maar nie krag, water en dienste kan verseker nie.
Wat nou wag, is koalisiepolitiek, en ’n ingewikkelde weergawe daarvan.
Vir Suid-Afrikaners beteken dit waarskynlik onstuimige politiek met ’n onsekere uitkoms.
Die vraag is nie bloot wie die meeste stemme kry nie, maar wie genoeg steun kan bymekaarmaak om te regeer, en waarvoor daardie steun verruil gaan word.
Dit is nog te vroeg om te voorspel of die onderhandelinge meer linkse koalisies gaan oplewer, of werkbare alternatiewe waarin dienslewering en verantwoordbare bestuur voorrang geniet.
In Pretoria bly die moontlikheid van ’n DA-VF Plus-koalisie ’n besonder interessante vooruitsig. Of die uiteindelike setelverdeling dit moontlik gaan maak, moet nog duidelik word. Die stad het in elk geval dringend behoefte aan ’n bestuur wat langer hou as die volgende politieke onderonsie.
In Johannesburg kan Helen Zille burgemeester word. Maar selfs indien die DA as grootste party eindig, kan die pad na die burgemeesterskantoor deur partye loop wat hom allesbehalwe goedgesind is. Sal dit die vervalle Goudstad weer aan die werk kry?
Mulder het ook vóór stemdag die moontlikheid geopper dat die MK-party Durban kan oorneem. Daar gaan die magsbalans besonder noukeurig dopgehou word. Die DA sal ook effens naels kou om te sien of hy bo 50% in Kaapstad bly.
Verandering is op hande. Die ANC kom tot ’n val, maar dit alleen is nog geen waarborg van beter bestuur en voorspoed nie.
’n Nuwe koalisie kan ook swak bestuur en daarom eindig ons verantwoordelikheid nie wanneer die stemme getel is nie.
Soos Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, dit gestel het: “Gaan stem. Máár stem ook met jou tyd.”
Die kruisie moet opgevolg word met betrokkenheid: in die werkplek, die buurt, die skool en die instellings wat gemeenskappe sterk maak.
Afrikaners het alle rede om hulle politieke gewig te benut. Ons het ewe veel rede om aan te hou bou wanneer die verkiesingsplakkate afgehaal word.
Die partye onderhandel nou oor wie gaan regeer. By Solidariteit werk ons aan ’n toekoms gaan intussen voort.