Afrikaans

English

loading
avatar
Mediaverklarings
2 dae gelede
kumba-iron-ore-se-loononderhandelinge-op-dooiepunt-weens-leierskapmislukking

Fotokrediet: Verskaf

Kumba Iron Ore se loononderhandelinge op dooiepunt weens leierskapmislukking

Loononderhandelinge tussen Kumba Iron Ore en vier vakbonde – Solidariteit, NUM, Amcu en Numsa – het ná vyf maande se onderhandelinge op ʼn dooiepunt uitgeloop.

Die salarisverhogingsaanbiedings vir die eerste jaar van die ooreenkoms wissel tussen 4,5% en 5%, afhangend van die posvlak, met verbruikersprysindeks (VPI)-gekoppelde verhogings vir die tweede en derde jaar. Die maatskappy bied ook verhogings van tussen 4% en 6% in die behuisingstoelae, asook ʼn verhoging van tussen 3,5% en 4% in die skoftoelae aan.

Volgens Gideon du Plessis, Hoofsekretaris van Solidariteit, is die salarisverhogingsaanbiedings egter nie die oorsaak van die dooiepunt nie.

Du Plessis verduidelik dat die grootste struikelblok in die onderhandelinge Kumba se voorwaarde is dat salaris- en toelaeverhogings daarvan afhanklik gemaak word dat werknemers instem tot ʼn nuwe skofrooster en -patroon, ingevolge waarvan werk op al 12 openbare vakansiedae verpligtend sal word.

Die maatskappy voer aan dat kostedruk en prestasie-uitdagings die grondslag vir die voorgestelde ingrypende wysiging aan die skofstelsel vorm.

Hoewel die vakbonde begrip het vir die maatskappy se uitdagings, word daar nou van vakbondamptenare en -verteenwoordigers verwag om bestuur se verantwoordelikheid oor te neem deur werknemers te oorreed om die nuwe skofstelsel en die gepaardgaande vereistes te aanvaar.

Volgens Du Plessis is hierdie abdikering van verantwoordelikheid op sigself deels tekenend van die redes waarom die maatskappy met prestasie-uitdagings worstel. Senior bestuur is duidelik onwillig om self verantwoordelikheid vir die bestuur van hierdie verandering te aanvaar.

“Na ons mening versuim die uitvoerende komitee, senior lede van die bestuurspan en die mensehulpbronne-afdeling om hul verantwoordelikhede na te kom.

“Dit is hul plig om regstreeks met werknemers in gesprek te tree oor die rasionaal vir, en die implikasies van, so ʼn fundamentele verandering aan hul diensvoorwaardes, ingevolge waarvan werk op al 12 openbare vakansiedae verpligtend sal word,” sê Du Plessis.

Volgens Du Plessis moet Kumba se werknemers gevolglik by vakbondamptenare van die besonderhede van hierdie ongewilde besluit kennis neem.

Dit terwyl daar terselfdertyd van die vakbonde verwag word om werknemers se bekommernisse aan te hoor en aan te spreek, asook om oplossings te probeer vind vir die ontwrigting wat hierdie ingrypende verandering vir gesinne gaan meebring.

Die geskil is derhalwe in wese die gevolg van ʼn bestuurs- en arbeidsverhoudinge-mislukking, aangesien bestuur sy eie verantwoordelikhede na die vakbonde verskuif het. Dit het gebeur ondanks die vakbonde se herhaalde versoeke dat bestuur die kwessie regstreeks met sy werknemers bespreek.

“Solidariteit het selfs ʼn vergadering gereël waartydens bestuur die voorgestelde veranderinge aan werknemers kon verduidelik, maar Kumba het deurgaans geweier om hierdie verantwoordelikheid te aanvaar,” voeg Du Plessis by.

Volgens Solidariteit kan die geskil slegs opgelos word sodra Kumba se leierskap besef dat moeilike en ongewilde besluite, ongeag hoe noodsaaklik dit mag wees, nie na vakbonde gedelegeer kan word nie, maar eerder binne die werkplek opgelos moet word.

Die dooiepunt in die onderhandelinge is dus volgens Solidariteit die direkte gevolg van ʼn leierskapmislukking by Kumba.

Die vakbond doen ʼn beroep op Kumba se topbestuur om ruggraat te toon, verantwoordelikheid vir sy besluite te aanvaar en sy verpligtinge teenoor werknemers na te kom deur te verseker dat interne operasionele kwessies nie in onderhandelingskwessies verander word nie.

Indien Kumba se bestuur sy verantwoordelikheid nakom, kan ʼn verwysing van die geskil na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie voorkom word.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel