loading
avatar
Artikels
5 maande gelede
sektorkodes-in-die-regsberoep-nuwe-verwikkelinge-en-hofdatum-bevestig

Foto Krediet: OkayDeer

Raskwotas in regsberoep onder loep: Hooggeregshof hoor saak in Mei aan

Deur Pieter Jordaan en Leré Nel

Dit word beskou as ʼn toetssaak vir raskwotas vir verskeie beroepsrigtings. Vir werknemers in die regsberoepe is dit egter ʼn besonder spesifieke en ernstige bron van kommer.

Die omstrede sektorkodes vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) in die regsberoep staan in Mei 2026 voor hierdie belangrike toets, wanneer die saak van 4 tot 7 Mei in die Pretoria Hooggeregshof aangehoor word.

Die Solidariteit Regsnetwerk het bevestig die hofsaak verteenwoordig ʼn deurslaggewende oomblik in die stryd teen wat dit beskou as oorregulering en ongrondwetlike inmenging in die regsberoep.

Wat behels die sektorkodes?

Die sektorkodes, wat in September 2024 in werking getree het, is eintlik maar rastelkaarte vir die werkplek, met verreikende implikasies vir regsfirmas van alle groottes. Een van die mees omstrede wysigings is die verlaging van die drempel vir “vrygestelde ondernemings” tot ʼn jaarlikse omset van minder as R5 miljoen, wat beteken dat selfs kleiner firmas nou aan streng vereistes moet voldoen.

Die voortbestaan van kleiner regsfirmas kom dus onder skoot.

Volgens die Regsnetwerk bestaan die kode uit vier kernpilare:

  • Eienaarskap: ʼn Teiken van 50% swart eienaarskap teen jaar vyf
  • Bestuursbeheer: Voorgeskrewe samestelling van bestuurstrukture
  • Vaardigheidsontwikkeling: Verhoogde en geteikende besteding aan opleiding
  • Voorkeurverkryging en sakeontwikkeling: Riglyne oor watter advokate en verteenwoordigers gebruik mag word

Laasgenoemde punt is veral omstrede, aangesien dit volgens kritici die kernbeginsel van vrye keuse van regsverteenwoordiging raak.

Om hierdie rede raak dit elke Solidariteit-lid en elke Suid-Afrikaner vir wie hierdie vryheid van keuse belangrik is.

Solidariteit se regsuitdaging

Solidariteit voer aan dat die sektorkodes onwettig, irrasioneel en ongrondwetlik is. Volgens die organisasie ondermyn die kodes nie net die onafhanklikheid van die regsberoep nie, maar plaas dit ook ʼn onrealistiese administratiewe en finansiële las op regspraktisyns.

“Hierdie saak gaan nie net oor nakoming nie – dit gaan oor die fundamentele beginsels van vryheid van beroep, kontrakvryheid en die onafhanklikheid van regsverteenwoordiging,” sê Emil Glas, organiseerder van Solidariteit se Regsnetwerk.

Die organisasie waarsku dat die implikasies wyd strek en die potensiaal het om die hele regslandskap te hervorm indien die kodes in hul huidige vorm gehandhaaf word.

Alle oë op Pretoria

Met die hofdatum wat nader kom, is alle oë op die Pretoria Hooggeregshof gerig. Die uitslag kan ʼn belangrike presedent skep vir die toepassing van rasregulasies binne professionele beroepe oor die algemeen.

Regsfirmas, advokate en ander rolspelers in die sektor word aangemoedig om die verrigtinge noukeurig te volg, aangesien die uitspraak verreikende gevolge vir die toekoms van die beroep kan inhou.

Hoe kan regslui betrokke raak?

Die Solidariteit Regsnetwerk doen ʼn beroep op regsfirmas en -praktisyns om die saak te ondersteun en hul stem te laat hoor teen wat hulle as oormatige regulering beskou.

Belangstellendes kan by die netwerk inskakel om op hoogte te bly van verdere ontwikkelinge en moontlike deelname aan die proses.

En die publiek?

Steun Solidariteit se Regsfonds, aangesien dit slegs deur gesamentlike steun is dat ons hierdie soort aanvalle – wat kort voor lank ook voor jóú bedryf se deur kan staan – kan afweer.

Dit raak immers ons almal se reg tot keuse van ʼn regsverteenwoordiger.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel