Fotokrediet: Pexels
Gekopieër
Regsnetwerk-studiefonds: Elke bydrae bou aan die regslui van môre
Deur Leré Nel
Agter elke suksesvolle regsgeleerde is daar ʼn pad van harde werk, deursettingsvermoë en jare se studie. Vir talle jongmense lê die grootste struikelblok egter reeds voor die wegspringblokke: om hul studies te bekostig.
Dít is waar Solidariteit se Regsnetwerk-studiefonds ʼn verskil maak. Deur samewerking tussen die Solidariteit Regsnetwerk en die Solidariteit Helpende Hand Studietrust word behoeftige Afrikaanse studente ondersteun om hul droom van ʼn loopbaan in die regte te verwesenlik.
Die doel is egter nie bloot om vandag se studente te help nie, maar om ʼn volhoubare fonds op te bou wat ook toekomstige geslagte regslui kan ondersteun. Daarom skep die Solidariteit Regsnetwerk verskeie geleenthede vir regspraktisyns, ondernemings en die publiek om by te dra.
Gholfdae
Een van die Solidariteit Regsnetwerk se grootste fondsinsamelingsinisiatiewe is die jaarlikse gholfdag wat saam met Solidariteit se Finansiesnetwerk aangebied word.
Hierdie jaar het 130 spelers weer byeengekom om vir ʼn groter doel gholf te speel. Met die ondersteuning van talle borge en ondernemings bied hierdie gholfdae nie net waardevolle netwerkgeleenthede nie, maar help dit ook om aansienlike bedrae vir die Regsnetwerk-studiefonds in te samel.
Volgens Emil Glas, organiseerder van die Solidariteit Regsnetwerk, is die impak van hierdie inisiatiewe reeds sigbaar.
“Dis ʼn groot voorreg om te kan sê dat vier studente reeds volledig deur hierdie studiefonds ondersteun word,” het hy tydens vanjaar se gholfdag gesê. “Almal wat hier is, wil seker maak dat daardie studente hul studies kan voltooi en dat nóg studente ondersteun kan word om dieselfde te doen.”
Regskennisgewings wat meer beteken
Benewens die jaarlikse gholfdag het die Regsnetwerk nog ʼn unieke manier geskep waarop regsfirmas deur hul gewone werksaamhede tot die studiefonds kan bydra.
Danksy ʼn samewerkingsooreenkoms met Maroela Media word 10% van die inkomste uit regskennisgewings wat op Maroela Media se platform geplaas word, aan die Regsnetwerk-studiefonds toegeken.
Dit beteken dat die publikasie van boedelkennisgewings, likwidasiekennisgewings en ander regskennisgewings ook kan help om die opleiding van toekomstige regslui te befonds.
Regsfirmas kan op Maroela Media se Regskennisgewingsplatform registreer.
Jou bydrae kan ʼn student se toekoms verander
Dit is egter nie net groot ondernemings of georganiseerde geleenthede wat die studiefonds moontlik maak nie. Individue en ondernemings kan ook deur eenmalige of maandelikse skenkings bydra.
Die Solidariteit Helpende Hand Studietrust is ʼn geregistreerde openbare weldaadsorganisasie. Kwalifiserende skenkings kan, onderhewig aan die toepaslike vereistes, ingevolge artikel 18A van die Inkomstebelastingwet belastingvoordele vir skenkers inhou.
Nog ʼn manier om tot die langtermynvolhoubaarheid van die studiefonds by te dra, is deur testamentêre bemakings. Deur ʼn bedrag of ʼn gedeelte van jou boedel aan die Studietrust te bemaak en dit spesifiek vir die Regsnetwerk-studiefonds te bestem, kan jy help om toekomstige studiegeleenthede te skep.
“Elke bydrae – groot of klein – maak dit moontlik om behoeftige Afrikaanse studente deur middel van rentevrye studielenings te ondersteun,” verduidelik Tanja Kitching, fondsbestuurder van die Solidariteit Helpende Hand Studietrust.
“Wanneer studente hul lenings terugbetaal, vloei die geld terug na die fonds om weer ʼn volgende student te help. Só help elke afgestudeerde student se terugbetaling weer ʼn nuwe student om te kan studeer,” sê sy.
Bou vandag aan die regsberoep van môre
Die waarde van die Regsnetwerk-studiefonds lê uiteindelik nie bloot in die geld wat ingesamel word nie. Dit gaan daaroor om jongmense in staat te stel om hul plek in die regsberoep vol te staan en uiteindelik self ʼn verskil in hul gemeenskappe te maak.
Of dit nou deur deelname aan ʼn gholfdag, die publikasie van ʼn regskennisgewing, ʼn skenking of ʼn testamentêre bemaking is, elke bydrae help om die volgende geslag regslui ʼn geleentheid te bied.
Wil jy help om aan die regsberoep se toekoms te bou?
Besoek die Solidariteit Helpende Hand Studietrust se webtuiste om meer oor skenkings en testamentêre bemakings uit te vind, of stuur ʼn e-pos aan Studietrust@helpendehand.co.za om ʼn bydrae spesifiek vir die Regsnetwerk-studiefonds te bestem.
Wanneer ons in die regslui van die toekoms belê, bou ons aan die toekoms van die regsberoep as geheel.