loading
avatar
Artikels
1 maand gelede
gholf-vir-n-groter-doel-solidariteit-regsnetwerk-en-finansiesnetwerk-slaan-af-vir-studente-se-toekoms

Fotokrediet: Solidariteit

Gholf vir ʼn groter doel: Solidariteit Regsnetwerk en Finansiesnetwerk slaan af vir studente se toekoms

Deur Leré Nel

Uitstekende gholf, sterk netwerke en ʼn doel wat veel verder strek as die laaste putjie op die baan. Dít het op 15 September 2026 saamgevloei by die Solidariteit Regsnetwerk en Finansiesnetwerk se jaarlikse gholfdag.

Met 130 spelers op Wingate Park-buiteklub se pragtige gholfbaan in Pretoria, talle borge en ʼn gemeenskaplike doel voor oë, het die 2026-gholfdag wéér gewys hoe goed netwerkvorming en ʼn goeie saak hand aan hand kan gaan.

Spelers maak gereed om af te slaan.

Die dag het om 10:00 met ʼn “shotgun start” afgeskop nadat spelers vanaf 09:30 verwelkom is. Ná ʼn dag van lekker saamkuier en gesonde kompetisie het deelnemers om 18:00 weer bymekaargekom vir die prysuitdeling en om die dag se hoogtepunte saam te vier.

Meer as net ʼn rondte gholf

Die Solidariteit Regsnetwerk en Finansiesnetwerk bied dié jaarlikse gholfdag aan met een belangrike doelwit: om fondse in te samel vir behoeftige Afrikaanse studente in regs- en finansiële rigtings.

Die fondse wat tydens die geleentheid ingesamel word, word aan ʼn studiefonds geskenk wat deur die Regs- en Finansiesnetwerke, in samewerking met die Solidariteit Helpende Hand Studietrust, bestuur word.

Emil Glas, organiseerder van die Solidariteit Regsnetwerk, sê die gholfdag gaan daarom oor veel meer as bloot die spel op die baan.

“Dis ʼn groot voorreg om te kan sê dat vier studente reeds volledig deur hierdie studiefonds ondersteun word,” het hy gesê. “Ons almal is vandag hier om seker te maak dat daardie studente hul studies kan voltooi en om nóg studente te kan ondersteun.”

130 spelers vir een doel

Deur die loop van die dag het deelnemers van putjie tot putjie beweeg, waar verskeie ondernemings en organisasies hul stalletjies ingerig het.

Onder die ondernemings wat vanjaar se gholfdag finansieel moontlik gemaak het, was Ford Menlyn, Rapid Solve IT Solutions, Jonsson Workwear, Virseker, King Price, Boerfin, WerfNet, ITEC, Anton Geyser Motor Holdings en CIBA.

Borge het prettige kompetisies en speletjies aangebied – en natuurlik ook lekker musiek, versnaperings en drankies.

Kruger Internasionaal het vanjaar weer as hoofborg van die gholfdag opgetree.

Dries Kruger, direkteur van Kruger Internasionaal, sê dat die ontwikkeling van jong Afrikaanse beroepslui baie belangrik vir dié maatskappy is en dat hulle hulself daarom met Solidariteit se doelwitte vereenselwig.

“As bate- en welvaartbestuurders verstaan ons hoe belangrik dit is om in die toekoms te belê – veral in die mense wat eendag ons ondernemings en ons samelewing gaan oorneem,” het Kruger verduidelik. “Hierdie is ons manier om ʼn blink toekoms vir Afrikaanse beroepslui te verseker.”

ʼn Belegging wat verder as die gholfbaan strek

Rickus Botha, organiseerder van die Solidariteit Finansiesnetwerk, sê hy hoop dat hierdie dag gevestigde beroepslui, ondernemings en jong talent nader aan mekaar sal bring en só aan sterk beroepsgemeenskappe vir die toekoms sal bou.

Tanja Kitching, fondsbestuurder van die Helpende Hand Studietrust, sê die trust hoop nie net vir fondse op die dag nie, maar vir ʼn langtermynverskil.

Die Solidariteit Helpende Hand-span.

“Die idee is dat die studente wat deur hierdie fondse ondersteun word, hul roeping sal vind en eendag ook hul deel sal doen om in hul eie gemeenskappe terug te ploeg,” verduidelik sy. “Hierdie finansiële ondersteuning maak die wêreld se verskil aan ʼn behoeftige student. Dit is die sleutel tot ʼn toekoms wat hulle andersins nie sou gehad het nie. Vir hierdie studente maak elke rand ʼn verskil.”

En die wenners is …

Natuurlik sou dit nie ʼn gholfdag gewees het sonder ʼn bietjie gesonde kompetisie nie.

Nadat die laaste spelers hul rondtes voltooi het, is die dag met ʼn prysuitdeling afgesluit om die beste spelers en spanne te vier.

Warren, Markus, Petrus en Stefan het die eerste prys ingepalm – maar spanne tot in die 27ste plek het elk ‘n prys gewen!

‘n Klomp lekker pryse was op die spel.

Le Roux Bodenstein, ʼn prokureur wat aan die gholfdag deelgeneem het, het laggend opgemerk dat dit die hoogtepunt van sy werksweek was. “Wie wil nou nie gholf speel op ʼn Dinsdag nie?” het hy geskerts. “Ek weet self hoe lekker dit is om ʼn prokureur te wees. Dit is ʼn voorreg om te kan help om daardie droom vir iemand anders moontlik te maak.”

Wanneer ʼn dag op die baan ʼn toekoms help bou

Die 2026-gholfdag het weer gewys wat moontlik is wanneer beroepslui, ondernemings en gemeenskappe rondom ʼn groter doel saamstaan.

Vir die spelers was dit ʼn dag van gholf, kuier en nuwe kontakte. Vir die borge was dit ʼn geleentheid om met ʼn groeiende beroepsgemeenskap te skakel. Maar vir die studente wat uiteindelik deur die fondse ondersteun sal word, kan die impak van dié dag nog jare lank gevoel word.

En dít maak elke hou die moeite werd.

Wil jy ook deel word van ʼn beroepsgemeenskap wat nie net oor vandag se loopbaan gaan nie, maar ook help om die beroepslui van môre te vorm? Bly ingeskakel by die Solidariteit Regsnetwerk en Finansiesnetwerk se platforms vir toekomstige geleenthede en meer inligting oor die studiefondse.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-aanlyn.
Skep vandag nog jou profiel