
Foto Krediet: Verskaf
Gekopieër
Dokters, mediese groepe sáám met Solidariteit in NGV-stryd
Die hooggeregshofuitspraak oor president Cyril Ramaphosa se ondertekening van die Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV) is op meer as een manier ‘n deurbraak. Lees meer hier.
Eerstens beteken dit die ondertekening van die NGV-wet mag nou hersien word en dat Ramaphosa sal moet redes verskaf waarom hy besluit het om dit te onderteken.
Ernstige vrae kan nou van Ramaphosa gevra word.
Maar tweedens beklemtoon dit ook hoe wyd die teenstand teen die NGV lê.
Natuurlik is Solidariteit se groot NGV-hofsaak die allesomvattende een waarmee die onwerkbare en onbekostigbare stelsel van stryk gebring moet word.
Maar volgens Peirru Marx, netwerkkoördineerder van die mediese beroepe by Solidariteit, is dit ook nodig dat ander groepe suksesvol weerstand bied.
“Hierdie saak oor ondertekening is deur die Raad op Gesondheidsfinansiering (BHF) en die Suid-Afrikaanse Private Praktisynsforum (SAPPF) gebring en gewen. Dit wys daar is sterk teenstand van mediese beroepslui teen die NGV.
“Dit is nie net Solidariteit wat dwars is nie. Tog versterk hierdie uitspraak Solidariteit se groter saak waarmee ons die NGV ‘n nekslag wil toedien,” sê Marx.
Ondanks die positiewe hofuitspraak oor die ondertekening, waarsku Marx egter dat die stryd nog lank nie gewonne is nie en hoe nog groter steun van die Suid-Afrikaanse samelewing nodig gaan wees om hierdie nasionale gesondheidsramp af te weer.