loading
avatar
Artikels
2 dae gelede
eenvoudige-stappe-vir-emosionele-welstand-vista-clinic-se-happiness-helps-model

Foto Krediet: Solidariteit

Eenvoudige stappe vir emosionele welstand – Vista Clinic se Happiness HELPS-model

Uitbranding is ʼn werklikheid, en almal van ons het al óf gaan dit op een of ander punt in ons lewens ervaar. Só sê Francois Louw, hoof- uitvoerende beampte van Vista Clinic, ’n privaat psigiatriese spesialiteitshospitaal in Centurion. Louw was die gasspreker by Solidariteit Werk se Mensehulpbronnebestuurder-dag, en hy het waardevolle (en eenvoudige) tegnieke bespreek waarop jy beheer van jou emosionele welstand kan neem.

Aanvaar jou emosies en leer daaruit

Volgens Francois is dit onvermydelik dat die lewe jou soms sal onderkry. “Jy gaan partykeer hartseer wees, jy gaan partykeer uitbrand – en dis oukei,” sê hy. “Aanvaarding is deel van herstel. Dis nie ’n teken van swakheid nie, maar van menswees.”

Hy beklemtoon dat depressie en uitbranding subjektiewe ervarings is. Dit is nie altyd maklik om te meet of te definieer nie – en soms is mense eenvoudig net moeg of hartseer sonder dat hulle noodwendig klinies depressief is. “Dis belangrik om te onderskei tussen normale emosionele reaksies en ernstige toestande,” sê hy. “Emosies is nie net fisiologies nie – dit gaan oor die mens as geheel.”

Die vyf stappe van Happiness HELPS

Vista Clinic het ’n eenvoudige, wetenskaplik bewese (en gratis) hulpmiddel ontwikkel vir mense wat aan hul emosionele gesondheid wil werk: die Happiness HELPS-model. Hierdie vyf elemente is prakties, haalbaar en klinies bewys om welstand te verbeter:

  1. “Help others” – Om ander te help, stel serotonien in jou brein vry – ʼn natuurlike antidepressant.
  2. “Exercise” – Beweging, veral om te stap, verbeter jou bui, verlaag bloeddruk en bevorder beter slaap. Louw beklemtoon ook dat goeie slaaphigiëne belangrik is “Enige blootstelling aan ʼn skerm onderdruk jou melatonien vir minstens ʼn halfuur daarna. Vermy dus skerms minstens ’n uur voor slaaptyd.”
  3. “Learn” – Leer elke dag iets nuuts. Dis oefening vir jou brein en hou jou denke vars.
  4. “Play” – Moenie vergeet om te speel en pret te hê nie, al is jy ʼn volwassene. Speel is noodsaaklik vir herstel en balans.
  5. “Spiritual growth” – Groei geestelik deur betekenis in jou moeilike ervarings te vind.

En dan, het Louw bygevoeg, is daar ’n “verborgde sesde element”: sinvolle sosiale netwerke. “As jy jou met die verkeerde mense omring, gaan hulle jou na onder trek. Doen hierdie bogenoemde vyf dinge saam met die regte mense, en jy sal ’n dramatiese verbetering in jou emosionele welstand sien,” sê hy.

Francois herinner sy gehoor daaraan dat geestesgesondheid nie net gaan oor die vermyding van geestessiektes nie, maar oor die aktiewe bou van veerkragtigheid en om betekenis in jou ervarings te vind. “As jy hulp kry, word jou donker dae nie net pynlike herinneringe nie – dit word lewenservarings wat jou karakter vorm,” sê hy. “Dis oukei om nie altyd oukei te wees nie.”

As jy hierdie geleentheid misgeloop het, moenie bekommer nie!
Solidariteit Werk bied gereeld inspirerende en bemoedigende geleenthede soos hierdie een aan vir praktisyns in verskeie beroepe. Hou Solidariteit Werk se sosialemediaplatforms dop om op hoogte te bly van komende byeenkomste wat jou in jou beroep én in jou lewe kan bemagtig.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel