loading
Artikels
1 week gelede
eksamenvoorbereiding-beskerm-jou-oe-en-postuur-so

Foto Krediet: OkayDeer

Eksamenvoorbereiding: Beskerm jou oë en postuur só

Deur Karen Waldeck

Eksamenvoorbereiding kan vir enige student ʼn stresvolle tyd wees. Dit vereis ure van lees, hersiening en studie, wat dikwels meeste van die tyd voor ʼn rekenaarskerm plaasvind. Hierdie intense fokus op digitale toestelle kan egter negatiewe gevolge vir jou oë en postuur inhou. Dit is uiters belangrik om op só ʼn manier vir die eksamen voor te berei dat dit nie oor die langtermyn ʼn negatiewe invloed op jou sal hê nie. Hoe kan jy vir eksamens voorberei sonder om jou oë en postuur te benadeel?  

Ergonomie en postuur

Ergonomie is die studie om jou fisiese omgewing, soos die meubels wat jy daagliks gebruik, aan te pas sodat dit jou pas en jou postuur ondersteun. Dit speel ʼn sleutelrol in die voorkoming van fisiese ongemak en beserings gedurende lang studieperiodes. Hier is ʼn paar wenke om jou postuur te verbeter:

Regte stoel- en tafelhoogte: Jou stoel en tafel moet só ingestel wees dat jou voete plat op die grond is en jou knieë in ʼn regte hoek gebuig is. Jou tafel moet op elmbooghoogte wees sodat jou onderarms gemaklik kan rus.

Skermhoogte en -afstand: Plaas jou rekenaarskerm op ooghoogte en ongeveer ʼn armlengte weg van jou gesig. Dit help om spanning op jou nek en oë te verminder.

Sleutelbord en muis: Jou sleutelbord en muis moet naby genoeg wees sodat jy nie ver moet reik om hulle te gebruik nie. Jou hande moet in ʼn neutrale posisie wees, met jou polse reguit en jou elmboë langs jou sye.

Regmatige pouses: Neem gereelde pouses om op te staan, te strek en rond te beweeg. Dit help om bloedvloei te verbeter en spierspanning te verminder.

Digitale gesondheid en oogversorging

Lang ure voor ʼn skerm kan digitale oogspanningsindroom veroorsaak, wat simptome soos droë oë en hoofpyne insluit. Hier is hoe jy jou oë kan beskerm:

20-20-20-reël: Kyk elke 20 minute weg van jou skerm na iets wat om en by 20 tree weg van jou af is vir ten minste 20 sekondes. Dit gee jou oë ʼn kans om te ontspan.

Maak seker dat jy gereeld jou oë knip om hulle te bevogtig. Jy kan ook oogdruppels gebruik as jy geneig is tot droë oë.

Beligting: Maak seker dat jou studieomgewing goed belig is om kontras te verbeter en oogspanning te verminder. Vermy glans deur jou skerm weg van vensters en ander sterk ligbronne te posisioneer.

Beperkte skermtyd: Beperk jou blootstelling aan skerms buite jou studietye om jou oë die nodige rus te gee.

Digitale detoks en gesonde gewoontes

Die oorbenutting van digitale toestelle kan nie net jou fisiese gesondheid benadeel nie, maar ook jou geestelike welstand. Hier is ʼn paar maniere om ʼn digitale detoks te doen en gesonde gewoontes te handhaaf tydens eksamenvoorbereiding:

Tydbeperkings: Stel spesifieke tye opsy vir studie- en skermtyd. Gebruik wekkers of toepassings om jou skermtyd te monitor en te beheer.

Digitale vrye tyd: Skep periodes gedurende die dag waar jy heeltemal van digitale toestelle wegstap. Gebruik hierdie tyd om te ontspan, te oefen of ʼn nie-digitale aktiwiteit te geniet soos lees of ʼn stokperdjie beoefen. Jy kan selfs probeer om eerder met pen en papier te leer in pleks daarvan om op jou rekenaar te leer.

Fokus en produktiwiteit: Gebruik toepassings en gereedskap wat jou help om gefokus te bly en afleidings te beperk. Byvoorbeeld, toepassings wat sekere webwerwe tydens studietye blokkeer kan baie nuttig wees.

Sosialemedia-onttrekking: Verminder jou gebruik van sosiale media tydens eksamenvoorbereiding. Dit kan afleidend wees en tot geestelike moegheid bydra.

Om vir eksamens voor te berei en #JouStudie te bemeester vereis meer as net akademiese fokus; dit vereis ook aandag aan jou fisiese en geestelike gesondheid. Deur ergonomiese beginsels toe te pas en jou digitale gesondheid te handhaaf, kan jy jou produktiwiteit verhoog en terselfdertyd jou welstand beskerm. Neem gereelde pouses, oefen goeie postuur, beskerm jou oë en maak tyd vir ʼn digitale detoks om ʼn gebalanseerde en gesonde jy gedurende jou eksamenvoorbereiding te verseker. Op hierdie manier kan jy jou akademiese doelwitte bereik sonder om jou gesondheid daarvoor in te boet.

Bemeester #JouStudie danksy Solidariteit en sluit aan by ons Studentelewe-groep!

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel