loading
Blogs
13 uur gelede
ons-kinders-se-roeping-was-nie-n-konferensie-oproep-nie

Foto Krediet: Solidariteit

Ons kinders se roeping was nie ʼn konferensie-oproep nie

Deur Felicia Richardson, Spesialis by Solidariteit se Skoliere-aanbod

Ons kinders is uniek geskape, elkeen met sy eie talente, drome en roeping. Soms vergeet ons as ouers dat ons kinders se roeping nie ʼn konferensie-oproep was waarby ons ingesluit was nie. God het ʼn spesifieke plan vir elkeen van hulle, en dit is nie altyd dieselfde pad wat ons as ouers dalk vir hulle in gedagte het nie. Ons rol is om hulle te lei en te ondersteun, maar nie om elke besluit vir hulle te neem nie.

Dit is natuurlik om ons kinders te wil beskerm teen die onbekende, en om vir hulle die beste toekoms te wil verseker. Ons wil hulle waarsku teen die foute wat ons gemaak het en hulle die beste kans op sukses gee. Maar, in ons pogings om hulle te lei, moet ons versigtig wees dat ons nie onbewustelik ons eie drome op hulle afdwing nie. Ons moet hulle genoeg ruimte gee om sélf te ontdek wié hulle is en wát hulle in die lewe wil bereik.

Het jy jouself al uitgevang dat jy vir jou kind sê: “Moet eerder nie in daardie beroep ingaan nie, want daar is nie geld in die beroep nie”? Of, het jy hulle aangemoedig om oorsee te gaan, want jy glo daar is nie geleenthede vir hulle hier nie? En, hoeveel keer het ons stilgestaan om regtig te luister na wat hulle wil hê, om hulle te vra waaroor hulle passievol voel, wat hul drome is?

Ons kinders het ʼn stem en ʼn visie vir hul eie lewe. Hulle het hul eie talente en belange, en dit is ons taak as ouers om hulle te help om daardie unieke roeping te ontdek en te volg. Ons moet onthou dat ons kinders nie miniatuurweergawes van ons is nie. Hulle het hul eie gedagtes, begeertes en potensiaal. Deur hulle toe te laat om hul eie besluite te neem, gee ons hulle die kans om te groei, om verantwoordelikheid te aanvaar, en om te leer uit hul eie ervarings.

Dit is belangrik om te besef dat ons kinders se roeping nie altyd met ons idee van sukses sal ooreenstem nie. Miskien wil jou kind ʼn kunstenaar, ʼn skrywer of ʼn maatskaplike werker word – beroepe wat dalk nie groot finansiële sukses waarborg nie, maar wat hul roeping en passie is. Ons taak is om hulle te ondersteun, om hulle te bemoedig om hul drome te volg, en om hulle te help om te verstaan dat sukses nie net aan geld en status gemeet word nie, maar aan die vervulling van jou unieke roeping.

Ons moet ook onthou dat God ʼn plan het vir elkeen van ons kinders. Hy het hulle geskape vir ʼn doel, en dit is nie ons taak om daardie pad vir hulle te bepaal nie. Ons is hier om hulle te lei, om vir hulle te bid, en om hulle te ondersteun op die pad wat hulle kies. Dit mag dalk nie die pad wees wat ons sou kies nie, maar dit is hul pad, hul roeping en hul keuse.

Laat ons dus ons kinders die ruimte gee om hul eie besluite te neem, om hul eie drome te volg, en om die mense te word wat God hulle geskape het om te wees. Laat ons hulle leer dat hul roeping nie bepaal word deur wat ander van hulle verwag nie, maar deur wat in hul harte geplant is. Hul roeping was nie ʼn konferensie-oproep nie, maar ʼn persoonlike, unieke roeping wat net vir hulle bepaal is.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel