Afrikaans

English

loading
Mediaverklarings
3 jaar gelede
geen-verdere-sprake-van-ngv-totdat-wet-aanvaar-is-nie

Foto Krediet: Daily Maverick

Geen verdere sprake van NGV totdat wet aanvaar is nie

Solidariteit het vandag aangekondig dat die adjunk-direkteur-generaal van die departement van gesondheid, dr. Nicolas Crisp, in ʼn skrywe aan Solidariteit bevestig het dat die departement geen verdere aankondigings in verband met die implementering van nasionale gesondheidsversekering (NGV) sal maak alvorens die wetsontwerp nie deur die parlement aanvaar is nie.

 

Dr. Crisp skryf in ʼn brief wat op 24 Oktober 2021 aan Solidariteit gestuur is dat die NGV-wetsontwerp na die departement se mening tans voor die parlement dien en totdat die parlementêre prosesse uitgeput en die wetsontwerp deur die Nasionale Vergadering bekragtig is, kan die nasionale departement van gesondheid nie aankondigings oor die uitrol of implementering van die NGV maak nie.

 

Volgens Solidariteit is dit ʼn oorwinning vir sy lede in die gesondheidsektor sowel as vir sy ander lede in die algemeen wat almal in die lig van die implementering van die wet met reuseonsekerheid gekonfronteer is.

 

“Ons het talle lede in die gesondheidsektor wat deurgaans moet worstel met uitsprake wat die departement maak en wat die indruk sou wek dat die departement optree asof die NGV reeds wet is. Hierdie brief bring meer sekerheid vir ons lede oor hul toekoms, veral in die lig van navorsing wat reeds getoon het hoe negatief gesondheidswerkers oor die wetsontwerp is,” verduidelik Anton van der Bijl, hoof van regsake by Solidariteit. “Dit bring ook verligting vir al ons ander lede wat belasting betaal of aan ʼn mediese fonds behoort aangesien hulle hulle nie oor drastiese veranderinge wat op hande is, hoef te bekommer nie.”

 

Dr. Crisp se brief volg nadat Solidariteit vroeër vanjaar ʼn skrywe aan die departement gerig het oor uitsprake wat gelewer is terwyl die wetsontwerp eintlik nog in die parlement gedebatteer moet word en nog aan openbare deelname onderworpe is. Solidariteit het in September aan dr. Crisp geskryf nadat hy dit tydens ʼn konferensie op 30 Augustus 2021 gestel het dat die NGV teen die einde van die jaar in werking sou tree.

 

“Ons is verheug oor die toegewing, maar eintlik moes dit nooit gebeur het dat amptenare oor voorgestelde wette praat asof die wet reeds ʼn werklikheid is nie. Ons hou dus nou die regering met ʼn valkoog dop om seker te maak dat dit voortaan nie weer sal plaasvind nie,” sê Van der Bijl.

 

“Verder beywer ons ons ook om die inwerkingtreding van NGV as wet te beveg aangesien dit geweldige negatiewe finansiële gevolge vir die ekonomie sowel as drastiese gevolge vir gesondheidsorg in die land kan inhou. Hierdie toegewing van die departement bly egter ʼn groot oorwinning in die voortgesette stryd en stuur ʼn boodskap uit dat die NGV steeds gestuit kan word,” sluit Van der Bijl af.

Om ’n verskil te maak, raak betrokke by
die Solidariteit-netwerkplatform.
Skep vandag nog jou profiel