Foto Krediet: Okay Deer
Gekopieër
‘Gewone lede se Dawid-klippies bou Solidariteit’
Deur dr. Dirk Hermann
Sowat 20 jaar gelede is die musiekblyspel Ons vir Jou in die Staatsteater opgevoer. Solidariteit was ’n bemarkingsvennoot en ons hele hoofraad het dit bygewoon. Een van die aangrypendste liedjies in die opvoering beskryf hoe Dawid met sy klippies teen Goliat opgestaan het: “Laat Goliat kom, die Dawid binne my is reg vir hom.”
Die volgende dag het Solidariteit se hoofraadsvergadering plaasgevind. Die raad bestaan uit verkose verteenwoordigers uit verskillende bedrywe en werkplekke – gewone mense wat elke dag werk.
Daardie dag is daar besluit om ’n mandaat by lede te kry om elke maand R10 se ledegeld van elke lid te gebruik vir bouprojekte. Kollega Henk Schalekamp het dit treffend gestel: “Dit is ons Dawid-klippies vir die byna ondenkbare taak wat voorlê.” Daardie tien rande het eers gehelp om Sol-Tech te bou en daarna Akademia.
Ons Goliat-klippies is nie die tien rande self nie, maar eerder elkeen van ons lede wat dit gee. Hul voete is stewig op die grond. Hulle verstaan die werklikheid. Hulle maak ons sterk. Solidariteit is ’n organisasie van gewone werkende mense, van wie ons ons mandate kry en aan wie ons deeglik verslag doen.
“Gewone lede se Dawid-klippies bou Solidariteit – en húlle is ons baas.”
Lees Dirk Hermann se volledige Rapport-artikel hier.